Kameel – Hoe rooier hoe mooier

Scrapy se Maandag = Wasdag Uitdaging No 39

Dink ek aan Kersfees, sien ek rooi… nee, nee ek word nie kwaad nie, inteendeel. Nou wonder ek hoekom is kersvader in rooi getooi? Daar was mos meer kleure om van te kies. Ewewel, met net Jay en haar man by die huis het dit gelyk asof hierdie Kersfees stil, stil sou verbygaan. Ons vier om ‘n potjie oxtail…. en toe nooi my oudste seun ons om Kersdag na hulle toe te kom. Die laaste Kersfees wat ons saam was, is toe hy as tiener by ons gekuier het. Jay en haar man stem in (sy het hom as grootmens nog net eenkeer ontmoet.) Ek moet erken dat ek vlinders op die maag gehad het oor die samekoms, en dat die Kersfeesgees my ontwyk het. Twee aande voor Kersdag kom haal Jay en haar man ons om kersliggies te gaan kyk. Iewers in Waterkloof is daar ‘n straat waar die groot huise agter hoë mure oor Kerstyd in ‘n wonderwêreld van liggies verander. Om dit te sien moes ons ‘n uur in amper stilstaande verkeer wag voordat ons by die liggiestraat kon indraai. Maar wat ‘n gesig van liggies, en mense en musiek was dit nie. Karre se dakke is afgeslaan en kinders met rooi kersvader hoede op hulle koppe staan en waai uitbundig. Deur oop karvensters word daar “Merry Christmas,” aan die mense in verbygaande motors gesê. Die wrede wêrklike wêreld lê vergete buitekant die grense van hierdie liggiewêreld. Beide ek en Ken het hierdie uitstappie broodnodig gehad. Kersdag kom laai Jay hulle ons op en ons ry na Timothy hulle se huis toe waar ons van die eerste oomblik af met oop arms en harte ontvang word. En so verander Kersfees in ‘n dag van dankbaarheid oor die geboorte van ons Verlosser, en die werk wat Hy in harte doen.

Mooi loop!!!

17 gedagtes oor “Kameel – Hoe rooier hoe mooier

    1. Dankie Una. My hartsbegeerte is dat al agt kinders vrede sal maak met mekaar. Die probleem lê nie by my twee oudste seuns nie, maar by die kinders wat by ons in die huis grootgeword het. Hierdie kersfees was vir my ‘n groot hartsgeskenk.

      Like

  1. Terugklingel: Maandag=Wasdag 1/21 Geliefde/spesiale klere? – Kreukels en plooie

Lewer kommentaar op Kameel Kanselleer antwoord