Woordwarrel – ‘n kitaar en ‘n hart wat sing

Betsie sug, strek haar arm uit en tel die bol wol van die rooi poleerde stoepvloer op. Sy sukkel vandag om op haar breiwerk te konsentreer, en Fanus se getokkel op die ou kitaar dra by tot haar frustrasie. Besef hy nie hy het lankal die vermoë om dié instrument te laat “sing” verloor nie. Sy kyk na die man met sy yl grys hare, geboë rug en krom vingers wat sukkel met die kitaarsnare. Meteens doem ‘n ander prentjie voor haar op. Sy was eerstejaar student op universiteit en het die vryheid wat daarmee saamgaan terdeë geniet. Sy is saam met ‘n vriendin na ‘n huispartytjie toe. Deur die lawaai het daar meteens vrolike kitaarmusiek opgeklink. Sy het omgedraai om te kyk wie speel so mooi en haar hart het bollemakiesie geslaan toe sy die jongman sien. Lank en lenig het hy daar gestaan met pragtige vingers wat oor die kitaarsnare beweeg. Vir ‘n oomblik het sy gewonder hoe dit sou voel as daardie vingers oor jou liggaam streel. Sy het haarself reggeruk maar nie voordat die man haar raakgesien en ‘n skewe glimlag gegee het nie. “Hy is reeds gevat,” het haar vriendin in haar oor gefluister, en haar weggetrek dansvloer toe. Die volgende dag is daar vir haar ‘n ruiker afgelewer. Die kaartjie het net gelees “Aan die meisie met die mooiste blou oë.” “Jy het vinnig die manne se harte gesteel,” het haar vriendin laggend opgemerk. “Die ruiker is ‘n duidelike teken daarvan.” Vir haar was daar egter net een gesig wat saak gemaak het. Die man met die kitaar, pragtige vingers en skewe glimlag. Hoe lank voordat sy hom weer sou sien?

Twee weke later is haar wens bewaarheid toe hulle saam by ‘n tennisgeleentheid opdaag. Hulle is aan mekaar voorgestel (alhoewel sy klaar inligting oor hom gehad het) en met ‘n glimlag het Fanus haar “die blouoog meisie” genoem. Sy was skaars bewus van Riana – die blondekop – wat aan sy arm vasgeklou het. Alhoewel sy woorde ‘n bekentenis was dat hy die ruiker gestuur het, het sy geen hoop gekoester dat daar ‘n verhouding tussen hulle kan ontstaan nie. Hy ‘n laastejaar student in Ingeneurswese, en sy ‘n eerstejaartjie… onmoontlik. Later die middag het sy en ‘n mansstudent te staan gekom voor Fanus en Riana vir die finale wedstryd. Op skool het sy uitgeblink in tennis, dus was sy goed voorberei vir die taai wedstryd wat sou volg. Dit was gou duidelik dat die blondekop ‘n aksie teen haar het en alles in haar vermoë doen om haar die stof te laat byt, maar sy en haar tennismaat het as oorwinnaars afgestap. Fanus het hulle die hand kom gee en haar toe saggies gevra of haar hart darem oorwinbaar is. Sy het stilweg gewonder wat hy sou sê as hy geweet het haar hart is klaar in sy hande.

Dié aand het almal weer bymekaar gekom vir ‘n vingerete en dans. Fanus het haar gevra vir ‘n dans en tussen die joligheid deur ongesiens met haar by die stoepdeur uitgedans. Eers buite het hy haar hand gevat en oor die grasperk na ‘n prieël toe gestap. Beskut teen oë het hy haar teen hom vasgetrek. “Jy smokkel met my hart blouoog,” het hy skor gefluister en sy mond het warm oor haar gesig beweeg totdat dit oor haar mond gesluit het. Sy vingers het oor haar liggam beweeg en net soos sy kitaar het haar hart uitbundig musiek gemaak.

Sy word na die hede teruggeroep toe sy Fanus se stem hoor. Hy kyk vraend na haar “My blouoog… waar hardloop jou gedagtes rond.?” Betsie voel hoe die bloed na haar wange steig, en haal vinnig haar sakdoek uit om die blos weg te steek. Fanus steek sy hand na haar toe uit “Ek dink ek weet waar jou gedagtes was… kom Bets hierdie keer dans ek met jou kamer toe.” Betsie vat die geliefde hand en druk dit teen haar lippe. Weereens sing haar hart die ou bekende lied.

26 gedagtes oor “Woordwarrel – ‘n kitaar en ‘n hart wat sing

Gesels met my ...

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s