Kameel – Avontuur

Scrapy se maandag=Wasdag uitdaging

Drie jaar gelede is skoonseun, Marlé en hulle twee tieners Amerika toe vir ‘n vakansie. Ons het heerlik saam met hulle getoer in Vegas, oor die Grand Canyon gevlieg, Disneyworld beleef en in New York en Washington DC opgeëindig. Voordat hulle teruggevlieg het huistoe het hulle hulle eers by Antoine (skoonseun se broer wat ‘n jaar later in Knysna oorlede is) in Kanada gaan kuier. Die fotos wat hulle gestuur het is pragtig. ‘n Wêreld wit van die sneeu…. en toe raak dit stil. Skoonseun het sy skouer seergemaak is al wat ons hoor.

Terug by die huis vertel Marlé en die seuns hoe skoonseun die besering opgedoen het… maar dit gaan gepaard met soveel lag dat dit moeilik is om te volg presies wat gebeur het. Heel duidelik is die prentjie wat in hulle koppe is ‘n skreeusnaakse een. Uiteindelik kon ek die stukkies bymekaar sit en die storie loop iets soos dit. As gesin het hulle besluit om te gaan ski. By die ski-oord aangekom word hulle eers geleer hoe dit gedoen word. Een van die belangrikste instruksies is die pizza. Wanneer jy wil stop bring jy die ski’s se twee punte na mekaar toe soos ‘n pizza skyf. Hulle kom so mooi reg dat die instrukteur aanbeveel dat hulle hoër teen die berg opgaan, en dan tot by hom terugski. Die moeilikheid begin al toe hulle bo vinnig van die bankies moet af en skoonseun soos ‘n os neerslaan. “Kan jy ooit ski?” vra van die mense heel besorgd. Skoonseun is ‘n bergfietsryer so wat is ‘n berg op ‘n paar skis nou? Probleem is hy staan 6 voet 6 duim in sy sokkies, en sy lengte maak dat hy baie vinnig spoed optel. Marlé en die seuns is eerste af en kom mooi netjies by die instrukteur tot stilstand. Die volgende oomblik kom skoonseun bergaf en spoed soos ‘n bliksemstraal by hulle verby. PIZZA PIZZA!!! skreeu die instrukteur en begin agter hom aanski. Skoonseun besef hy is nie opgewasse om die hele berg af te ski nie, en draai skuins direk na ‘n afgrond toe. In desperaadheid gryp hy in die verbygaan ‘n waarskuwingsbordjie vas. Die paal buig skeef maar hou darem; ruk skoonseun van sy voete af en daar bly hy lê met sy skouer uit potjie uit. Dis ‘n witgeskrikte instrukteur wat wil weet waarom het skoonseun nie gepizza toe hy moes nie… maar skoonseun hou vol dat hy probeer het maar die pizza het nie vir hom gewerk nie. Marlé sê sy besef hoe gevaarlik dit was maar om hom op daardie spoed bergaf te sien gaan met ‘n skreeuende instrukteur agterna is net te veel om nie te lag wanneer jy dit herroep nie.

30 gedagtes oor “Kameel – Avontuur

    1. Baie goed ons het eers later van sy amperse afgrond afstort episode gehoor. My kleinseun sê hy was juis besig om vir die instrukteur te vra kan alle mense betyds stop… want wat gaan gebeur as hulle nie kan nie. Die volgende oomblik kom sy pa toe daar verby geflits.

      Like

    1. Ek ook en dis baie snaaks Perdebytjie. Wanneer hy jou vertel dat hy nie kon pizza nie en toe maar besluit het om half gebukkend berg af te ski (soos hy sien skiers doen) en toe al vinniger spoed optel, lag ‘n mens so. Dis toe dat hy besluit het om skuins te probeer gaan sonder om aan afgronde te dink totdat die gevaar hom getref het. Dit kon ‘n lelike ding gewees het; deur Genade is dit nou net ‘n komiese avontuur.

      Liked by 1 person

    1. Hy was baie gelukkig!!! Daardie soort avontuur is ook nie vir my nie. Nog nooit die behoefte gehad om te rolskaats of ski nie. Marlé sê ook hulle het dit gedoen maar dis nie iets wat sy weer sal wil doen nie. Jy moet nou lekker vlieg… weet nie of diy môre of Donderdag is nie.

      Liked by 1 person

  1. Dit was beslis genade wat gehelp het dat hy nie die afgrond af is nie. Sien die hele prentjie duidelik voor my. My hoof waar ek voorskool en naskool gedoen het ski gereeld. Hy is ook een van dies wat meestal in n manier land of homself bevind wat baie lagwekkend is maar tog steeds eintlik gevaarlik is. Hy beseer hom gereeld elke keer.Die ski-ery trek my ook gladnie aan nie. Dankie dat jy die avontuur gedeel het.

    Liked by 1 person

  2. Terugklingel: Maandag=Wasdag 29: Bou of maak iets. – Kreukels en plooie

Gesels met my ...