Kameel – Hierdie hart van my

Ek gee te veel om klaar!!! Ek moes geweet het toe ek op die sypaadjie staan en huil omdat ‘n kafeeeienaar ‘n bedelaar by sy winkel uitgejaag het, dat die lewe nie vir my maklik gaan wees nie. Ek is huistoe, het my ma daarvan vertel en sy het gesê ek gaan nog baie sulke goed in my lewe sien. Ek is moeg vir hierdie hart van my!!! Moeg gehuil oor ander se seerkry, en my eie. Moeg uitgekyk vir ander se welstand. Moeg gewonder of alles ok is met ander. Moeg vir hierdie fyn aanvoeling wat ek het wanneer alles nie pluis is nie.

Asof sestien kinders (skoonkinders ingesluit) en amper agtien kleinkinders nie genoeg is om my hart in my keel te laat klop nie, is daar familie en vriende waarvan party se lewens besig is om uitmekaar te val. En dan my liewe blogmaats is daar julle. Ek het net twee van julle nog ooit ontmoet maar julle is in my hart. En so praat my hart aanmekaar; Vuurvliegie is stil… is sy ok? Hoe gaan dit met Hester? Is Positief veilig op die plot? Ek moet Scrapy kontak, ek voel bekommerd oor haar. Lag Una weer? Toorts gaan dit goed met haar? En so kan ek aangaan. Hoe haal ek julle uit my hart uit???? Ek vra want hier loop die trane, en ek snik letterlik. Ek gee te veel om… ek het ‘n hartoorplanting nodig!!!

Mooi loop!!

12 gedagtes oor “Kameel – Hierdie hart van my

  1. Ons gee net so baie vir jou om. En ek sukkel met dieselfde ding, kommer groot dele an my lewe oor goed wat toe nie gebeur het nie. Soos my dogter war vanoggend die Otter hardloop. Deur ‘n stuk van ‘n inkomende gety see aan ‘n kabel moet gaan. Sy was bang is vir sulke onbekende dieptes. Klein genoeg dat die branders aan haar pluk. Haar armpies so sterk soos haar geloof. En ma bid saam. Die hele oggend al. Vandat sy die half bang half opgewonde foto gestuur het. Want sy is nie so gesond of fisies sterk soos sy moet wees nie. Geloof dra mens egter daardeur. Lief vir jou omgee Kameel.

    Liked by 1 person

  2. Weet jy, jou omgee is uniek vir my en vele andere ook. Jy lê ook na en diep in my hart. Ek wat Scrapy is kannie sonder ouens soos jy wees nie. Na jou kontak het jy my weer op n gedagte jag gesit. Hoekom so en hoekom nie andersom nie, vra ek my af. Hierdie plaas week het my liggaam totaal uitgeput maar dit was n nodige uitputting om weer insig te kon kry in hoe die lewe eintlik kan wees. Ongekompliseerd en gemaklik, net omgee en diere versorg was heerlik. Daar is beslis n Hemelse Vader wat mens wys wat werklik nodig is. Deur met jou te praat(skryf) het my laat besef wat regtig belangrik is. Jy is die beste vriendin om te mag ken.

    Liked by 1 person

Gesels met my ...