Kameel – Swartskaap

Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.

Diep in gedagte versonke sit Roelf;  die pasta op die tafel voor hom en die sap in sy hand skoon vergete. Hy word na die hede teruggeroep deur die skraap geluid van ‘n stoel se pote oor die plankvloer. Met blitsende oë staan Marlene daar. “Dink jy ek is ‘n swaap Roelf, daardie kamtige arts van jou bel van vroeg tot laat…. en en,” sy kom nie verder nie, haar spraak word deur trane vervang.  Verergd gooi sy haar swart hare oor haar skouers terug, lig haar ken en stap by Roelf verby. Hy steek sy arm uit om haar te keer maar sy spring rats uit sy pad en verdwyn kamer toe. “Ai Lientjie, as jy net weet hoe mooi lyk jy as jy so kwaad word,” dink hy en glimlag by die gedagte.

In die kamer se deuropening kom hy tot stilstand. Die kas se deur staan oop en op die bed lê ‘n tas waarin Marlene besig is om klere te bondel. Van die klere beland op die vloer; dié raap sy op en druk dit in in die klaar oorvol tas. “‘n Mens pak nie ‘n tas so woerts warts nie my skat,” sê hy met ‘n vonkel in sy oë. “Dit traak jou nie hoe ek my tas pak nie,” kom die bitsige antwoord. “Spaar jouself die moeite… laat Cecelia na jou luister, maar ek is klaar met jou.” Die laaste woorde het hul vuur verloor, en sy draai vinnig haar kop weg sodat hy nie haar gesig kan sien nie. “Lientjie Lientjie,” sê hy en probeer sy gesig strak hou, “hoekom maak jy van my die swartskaap. Kan ek dit verhelp dat my kollega ‘n vrou is en daar tydens noodgevalle ‘n saak of twee is wat sy met my wil bespreek? Waarheen is jy in elk geval oppad? Kaap toe.? vra hy en kyk na die tas waar die kat haarself op die klere tuisgemaak het. “Ek sien Dodo gaan saam,” sê hy met ‘n kopknik in die rigting van die bed. Deur ‘n waas kyk Marlene na die gemmerkat en sluk swaar. Dit was Roelf se geskenk aan haar toe hy uitgevind het hoe lief sy vir katte is. Haar hart versag maar sy hou vol “Ek bly eerder saam met katte, ‘n aap of twee, en ander gediertes in Noag se ark as hier waar ‘n ander vrou gedurig in ons saamwees inmeng” sê sy. Roelf gee ‘n tree vorentoe en trap per ongeluk op Dodo – wat intussen nader beweeg het – se stert. Die kat gee ‘n onaardse geluid en bespring hom met haar skerp naels. “Goeiste bewaar my swak hart,” sê Roelf dramaties, “twee vrouens met  skerp naels teen een nietige man! Nie eers ‘n karwats kan so hard looi nie.” Met die woorde plaas hy sy hand oor sy hart, en laat sak sy kop in nederlaag. Marlene sak op die vloer neer soos sy lag. “Ek is bly iemand neem my part in hierdie saak en neem wraak!” sê sy en vee die lagtrane uit haar oë. Roelf lig haar van die vloer af op, slaan sy arms om haar en fluister in haar oor, “Volgende keer as jy na Noag toe wil hardloop onthou daar is kaart en transport by die saak betrokke my Lientjie.”

Mooi loop!!

27 gedagtes oor “Kameel – Swartskaap

  1. Terugklingel: #Woordwarrel oor swartskaap op aaptwak – Lekkervurigeaffêre

Gesels met my ...