Cullinan en ‘n Harley

Ek het Vuurvliegie gevra of ek van nou af agter in die bus by haar kan sit en lees. Agter daardie boek vertrou ek om soos die drie apies te sit totdat ek weer myself gevind het….anders sal ek genoodsaak wees om Camilla te laat kom om verder saam met julle te toer.

Tot in my drome (en dis die waarheid) is ek omring deur nie net 13 vroue nie, maar ‘n massa malende pratende vroue. Die Sunlight Liquid wat ek as shower gel ingepak het, leen iemand by my, en laat die helfte op ‘n bed uitloop, en ek kry raas daaroor. Ek self soek ‘n stort wat blyk ‘n onmoontlike taak te wees totdat ‘n vrou – wat ek duidelik in die stort kan sien – sê die stort is leeg ek kan maar inkom. Sy lyk alte veel na Broodina, geklee in militêre drag, maar my nood is so groot dat ek ingaan. Die stort is leeg maar ek besef daar is ‘n spook daarbinne en ek vra mooi dat sy nie die warm water oor my hare moet oopmaak nie. Die volgende oomblik is ons in die bussie wat skoonseun bestuur…die pad is sleg en hy ry sowaar as wraggies binne in ‘n groot moddergat in. Twee mans (gelukkig ten volle geklee) sê hy gaan nie sommer weer daar uitkom nie, en begin klippe pak. Van ons vrouens klim uit en daar ry die bussie vir ons weg. Die droom stop daar…maar ek verstaan hoekom die bussie – met skoonseun as bestuurder – vir my weggery het. Net gisteraand het hy gesê op my begrafnis gaan hy definitief Hallelujah kliphard speel, en nog sy hande jubelend in die lug gooi ook.

Terug by Cullinan. Dit is een van ons gunsteling plekke vir ‘n gesellige uitstappie, en rondslenter deur ou huise wat in winkeltjies of eetplekke omskep is. Daar heers die geselligste atmosfeer, en niemand lyk ooit oorhaastig nie. Ek was nog nooit in die myn af nie en is baie bly WoordNoot het dit gereël. As ek ooit oorweeg om die diamantwinkel te besoek sal ek dit onmoontlik nou met ‘n “straight face” kan doen. Die Towerrinne sal soos skimme daar staan; broodjie in die hand. Ek hoop om nog eendag die stoomtrein te ry om weer my kinderdae te herleef.

Bikers is lief om Cullinan toe te ry vir hulle “breakfast run.” Ek weet nie of julle opgelet het hoeveel motorfietse daar gestaan het toe ons Cullinan binnegery het nie. Toe ons uitkom was hulle weg… behalwe vir ‘n swart Harley. Ek het nie veel daarvan gedink nie maar gesien Frannie sit haar donkerbril op, en slenter al stadiger agter ons aan. Dis onmoontlik om in ‘n groep te bly; die een kyk hier die ander daar, party bly agter terwyl ander aanstap. Ek myself het besluit om ‘n vinnige draai by Harrie’s Pancakes te maak. Raai wie sien ek toe ek daar instap? Hulle het my nie gesien nie…hulle was te besig om in mekaar se oë te verdrink. Vir ‘n oomblik het ek vasgenael staan en kyk. Die man het ‘n bruin lenige hand opgelig en saggies ‘n weerbarstige krul van die vrou se voorkom weggevee. Sy hand toe liefderyk om haar wang gekelk en stadig vorentoe geleun. Ek het myself van die betowerende toneel weggeskeur, en in die bus gaan sit vol heimweë oor die pragtige toneel.

01-06 36

 

01-06 41

01-06 13a

01-06 03 - Copy

Mooi naweek vir almal!!

50 gedagtes oor “Cullinan en ‘n Harley

    1. Ek probeer kommentaar lewer maar dit word bly uitgegooi. Ek strompel vanoggend uit die kamer uit en sê vir my man ek het nou die vreeslikste nagmerrie gehad. Joooooo. As ek al van Broodina en spoke begin droom moet jy weet die toer voel meer dan werklik. Nee wat ek gaan so ‘n tydjie rustig lees daar saam met vuurvliegie…. en julle bietjie met rus laat… dan sal ek seker genoeg herstel het om verder te party.

      Liked by 2 people

      1. Ja elke keer wat ek begin lees verdwyn dit voor my oge. Ek dog dis een van daai towerin dinge wat ek nog nie van weet nie..😋
        Aangesien ek nou my kop onder die bank gestamp het, sal ek dan maar ook sootjies agter langs gaan sit…

        Liked by 1 person

      2. Jy mag net agter sit as jy ‘n boek het om te lees. Ek het ‘n idee jy gaan dit baie moeilik vind om sootjies daar te sit. Maar dan weer as jy jouself in skilderkuns kan verdiep…. wie weet.

        Liked by 1 person

  1. Vergeet die droom, ek is in vervoering oor die mooi liefhê oomblik wat jy so mooi beskrywe. Ag, daar gaan my skrywery na nul, ek gaan nou eers weer jou woorde lees. (Is jy ernstig? Broodina in militêre drag – ek sidder. Ons sal wakker rakkers moet wees.)

    Liked by 3 people

    1. Dit was ‘n pragtige oomblik om te aanskou Vuurvliegie. Miskien moes ek nie gekyk het nie maar ek was betowerd. Ja kan jy glo dat ek sowaar as wraggies van Broodina in my werklike lewe droom. Netnou kan ek nie meer tussen werklik en fiksie onderskei nie.

      Liked by 1 person

      1. Ai, dis nie lekker nie. Mens seliggaam kan ook net n sekere hoeveelheid skokke hanteer voordat dit nie verder kan gaan nie. Ek is ernstig ooe berading. Dit gee weer n ander hoek hoe dinge staan. Ek voel jammer vir jou en jou familie ook. Dis nie goed nie. Hope liefde vir jou.

        Liked by 1 person

      2. Dankie Scrapy. Die roudiens is vanoggend…wens dis verby. Nie alleenlik sy dood nie maar omstandighede rondom sy lewe waaroor soveel van ons kwaad is. Daar is net te veel emosies betrokke. Ek myself sal my hart êrens moet gaan uitpraat…te veel van dit het my eie lewe weer oopgeruk, en dit voel of my derms op die grond lê. Dankie vir omgee!!

        Liked by 1 person

  2. Ek is net te dankbaar dat jy nie my naam noem in jou nagmerrie-dele nie. Maar asb, Kameel, ek wil nie agter moet kom sit en lees nie…kan ek net suutjies op die tweede bank bly en glad nie sê waaroor ek dink nie. Woordnoot en Toortsie sal ń oog oor my hou.

    Liked by 2 people

    1. Julle moet aamgaan met julle toer en dit geniet. Moenie dat ek ‘n demper op julle plaas nie. Ek sal weer bykom…net eers die stukkend binne my verwerk. Hierdie ding het baie hard geslaan.

      Like

  3. Nou hoe het ek hierdie inskrywing gemis? Dis pragtige fotos hierbo en ek kan nie vir Frannie kwalik neem dat die atmosfeer daar haar aantas nie.
    Ek is jammer dat jy soveel hartseer verduur dat dit by tye te veel raak. Sterkte met vandag se verrigtinge en ek hoop dat jy berusting en salwing vir jou gemoed sal vind.

    Liked by 2 people

  4. Terugklingel: Hoe ek vir Kameel ontmoet het – toortsie.com

  5. woordnoot

    Kameel…ek is gewoonlik die agteros…ek is so jammer vir dit waardeur jy gaan. EK het geen benul wat dit is nie, maar ek hoop jy kry vertroosting. Soos Scrapy gesê het…sit en skryf jou seer. Daar is baie genesing daar in. Sterkte

    Liked by 1 person

    1. Dankie WoordNoot. Dis die dood van my sus se seun wat baie naby aan ons was. Sy dood (sjoe hier begin die trane loop) het my nie net tot in my diepste wese geskok en diep hartseer gebring nie, maar was soos ‘n aardbewing wat my binneste oopgeruk en dinge uit my verre verlede na vore gebring het. Ek het nooit besef ek is eers in staat tot die emosies wat dit tot gevolg gehad het…en nou in my woed nie. Ek sal vir berading moet gaan…maar netnou gooi ek die persoon se besittings teen die muur flenters. Waar begin ek skryf tussen al hierdie chsos? Sorry, ek laai sommer nou hier op jou af.

      Like

      1. woordnoot

        Ek is so jammer. Glo my as ek sê dat ek verstaan. Daar is niks soos die dood van ‘n geliefde wat mens se emosies so radikaal blootstel nie. En daar is ook nie ‘n tyd stamp op hierdie situasie nie. Berading is goed. Dit is dalk nodig want ons is mos geneig om dinge in ‘n boskie te pak en weg te steek. Soms dink ek aan die dood as ‘n kurktrekker, want as mens die kurk oopmaak met die kurktrekker, kan die inhoud van die bottel uitloop. En dit klink of dit die geval is. Jy mag maar iets breek. Jy kan maar iets stukkend gooi. (Maak net seker jy is nie sentimenteel oor daardie ding nie) Dit help. Jy mag skree ook. En jy mag kwaad wees. En hartseer. En bang. En verward. Dood is ‘n eina pad. Die belangrikste is net om elke dag te deel met die emosie wat jy voel. Eien dit vroeg en vloei daarmee saam. Ry die golf. Moet niks weer teruggooi in die bottel. Want as daai bottel weer vol is moet die prop weer opgaan. Hierdie is maar die raad wat ek gevolg het toe die dood my adres raakgeloop het. DIt het my deur dit gebring. Sterkte. Om te rou is om ‘n pad te stap. Kortpaaie bring nie verligting. Ek dink aan jou.

        Liked by 1 person

  6. Ai Kameel, hier is ek mostert na die maal, maar kon uit jou skrywe die fiep seer hoor. Stem met Woord oot jy moet die golf ry en jouself kans gee om elke faset van die rou proses te deurleef, dit alleen sal weer rus bring. Jammer vir julle.

    Liked by 1 person

  7. Terugklingel: Die kern – ‘n Rebusfonteinstorie | Tannie Frannie

Gesels met my ...