Lê-jou-eier-kuier-safari – Ons ry met die bus na Pretoria

Sien: Dis Ekke vir die reëls.

img-20180913-wa00052119949424.jpg

Hierdie bloguitdaging is aanvaar deur 14 Afrikaanse bloggers wat ñ virtuele toer deur Suid-Afrika gaan onderneem. Die gasblogger van die week moet op ñ Donderdag, op die datum wat toegewys is, ñ blog publiseer oor hulle tuisdorp/streek, asook ñ fiktiewe weergawe van die ander 13 bloggers se kuier by sy/haar tuisdorp.

Klik op hierdie skakel om die lys van deelnemende gasbloggers te sien, asook die datums waarop hulle blogposse gepubliseer gaan word.

Die 13 kuiergasbloggers vir die week (en hul lesers) kan dan vir die res van die week ook blogposse bylas waarin hulle beskryf hoe hulle die kuier geniet het, of hulle kan ñ blog skryf oor die streek waarin die gasblogger van die week die kuiergaste onthaal het – vertel van ñ eie ondervinding in daardie provinsie/streek/dorp, deel herinneringe of plaas fotos wat daar geneem is. Enige lekker storie sal doen solank dit in die gasblogger se streek/provinsie afspeel. Kuiergasbloggers en hulle lesers moet asseblief ook hulle skakels byvoeg op InLinkz sodat ons almal kan saamlees.

Om jou blogpos by te voeg of om die ander bloggers te lees, kliek op die volgende: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

img-20180913-wa000486455340

DIE TOWERINNE EN PRETORIA

 

images (3)Ek het Lorenzo as busbestuurder gehuur bloot omdat ek oor die Towerinne se veiligheid besorg was… en om te verhoed dat Hester haar vingers afkou van stres oor my bestuursvernuf. Hy kan glad nie Afrikaans praat nie, en sy Engels is ook maar krom en skeef.  Dit het hom egter nie lank gevat nie, toe sing hy “The wheels of the bus go round, and round,” uit volle bors saam met ons. Arme man, Hy wou seker van die oorwurm probeer ontslae raak. Moet sê sy stem is nie te versmaai nie.

IMG-20180912-WA0013

 

Die Towerinne se aankoms by Ivory Manor Boutique Hotel was iets om te aanskou. Jy kon hulle ‘n myl vêr hoor lag en gesels. “Julle is omtrent ‘n gesellige klomp,” het die gasvrou ons glimlaggend verwelkom, waarna ons na ons kamers verwys is. Na ‘n heerlike ontbyt langs die swembad is ons terug bus toe vir ons eerste uitstappie van die dag. Natuurllik wou almal weet waarheen ons gaan, maar ek het my “pose” gehou, en gesê dis ‘n verrassing. Om die waarheid te sê ek was nie seker of hulle in die bus sou klim as ek hulle vertel het ons is oppad Wonderboom lughawe toe, sodat hulle kan gaan valskermspring nie. Was ek dan nie aangesê om hulle Pretoria te wys nie? Daar is nie ‘n beter manier om Pretoria te sien as uit die lug uit nie. Dink net, vasgegordel aan ‘n instrukteur sweef jy met flappende wang en nekvelle vir tien minute deur die lug, met die wêreld wyd en oop onder jou.

DCIM100GOPRO

Ek gaan nie hier herhaal wat party Towerinne gesê het toe die bus by Wonderboom ingetrek het nie. Eers binne die plek met sy groen gras, koeltebome en rustige atmosfeer het hulle bedaar. Perdebytjie en Seegogga het onophoudelik begin giggel; ek het dit later toegeskryf aan senuwees. Miskien sal hulle ons nou vertel wat so snaaks was. As gasvrou kon ek natuurlik nie saam spring nie; ek wou by die landingsplek staan om seker te maak elkeen land veilig, en in een stuk. Asof dit nie bekommernis genoeg was nie, het daar ‘n hond rondgeloop, en ek moes uitkyk dat Una nie oor hom val nie. (tong in die kies)

Wel die Towerinne is geskool, en gebelt, en het saam met die instukteurs die pad gevat vliegtuig toe. Van die oggend se lag en gesels was daar geen sprake nie; hulle het kompleet gelyk soos ‘n klomp skape wat ter slagting gelei word. Die valskerms teen die blou oggendlug was ‘n pragtige gesig, en ek het angstig die groterwordende valskerms dopgehou om te sien wie dit is wat gaan land. Scrapy – gewoond aan lugvervoer – het te pragtig op haar voete neergekom, en ‘n paar treëtjies oor die gras gehardloop. Die instukteur aan haar rug vasgegordel moes sy storie ken om by te bly. Ek wil nie te veel sê oor die ander se landing nie… net dat dit ‘n uitstekende komedie sou uitmaak. Bondels en haar instrukteur het met so ‘n vaart geland dat dit diep slote in die gras gelaat het. Gelukkig het hulle nie seergekry nie, maar op die gras rondgerol soos hulle lag. Die Towerinne het ‘n duidelike gedaanteverwisseling ondergaan. Hulle oë het geblink, hulle wange het gegloei, hulle het laggend aan hulle instrukteurs gehang, ge “high five.” en vir fotos poseer. Hester, met ‘n goudgeel kappertjie in haar hare as trofee, het breed vir die kamera geglimlag, en my ‘n “thumbs-up” gegee.

 

Sammy_marksOns is sommer direk van daar af na die Sammy Marks Museum toe, en het dadelik na die teetuin toe gestap om ons by nou, grommende mae te stil. Die 46 vertrek herehuis het ons rustig op die pragtige gronde ingewag; meer dan gewillig om sy kosbaarhede uit vervloë dae aan ons oë bloot te stel. Sou dit nie wonderlik gewees het as ons saam met die skatryk Joodse familie en hulle vele vriende – waaronder Paul Kruger ook getel het – by ‘n vyfgang maaltyd kon aansit, en uit die fyn porseleinware eet en drink nie? Daarna sou ons op die grasperk croquet speel, of tennisbaan toe te stap vir ‘n potjie tennis. Van die nege kinders sou ons nie veel sien nie; hulle was onder ‘n goewernante se sorg, en is op ’n vroë ouderdom na vooraanstaande skole in Engeland gestuur. “Kameel, wat droom jy? Die toer gaan nou enige oomblik begin.” Dit was WoordNoot se stem wat my na die hede toe teruggeruk het.

Die Towerinne het hulle handsakke gegryp, en laat spaander na waar ‘n toergids ons ingewag het. Skaars by die voordeur in of sy sê ons moet asseblief aan niks vat nie, waarop Una die potjie in haar hande vinnig neergesit, en gefluister het dat dit so mooi in haar Baliwinkel sou lyk. Die toer het verder heel rustig verloop… totdat ons ‘n slaapkamer betreë, en meegedeel is dat ‘n vriend van die familie kom kuier, en nooit weer weggegaan het nie, en dat hierdie sy slaapkamer was. Sy was nog besig om te praat toe Una meteens vra of die man daar in die leunstoel met sy japon aan nie omgee dat daar soveel nuuskierige vroumense in sy kamer rondhang nie.  Die konsternasie op die Towerinne se gesigte was iets om te aanskou. Hulle het na die leë leunstoel gestaar en dan weer na Una wat met ‘n glimlag op haar gesig na die leunstoel staan en kyk het.  Virgo het haar arm om Una geslaan, en besorg gesê “Ousus, ek dink die oggend se opwinding was te veel vir jou,” en met diè woorde het sy haar by die deur uitgelei.  Die Towerinne is horrelste borrel agterna en ek het gewonder of ek hulle nie maar vooraf moes gewaarsku het dat diè kamer sy eie spook het wat af en toe deur ‘n besoeker gesien word nie.

Screenshot_2018-09-21-11-21-39-1Ons is terug gastehuis toe om gereed te maak vir ons aand se kuier by Die Blou Hond by die Casa Toscana Lodge. Mensig so ‘n verskeidenheid van parfuumreuke soos wat daar in die bus gehang het was bedwelmend. Heel duidelik was die Towerinne opgewonde oor die twee kunstenaars wat diè aand sou optreë. Die atmosfeer by die Blou Hond is gesellig, en jy voel dadelik tuis. Dit is baie soos by ‘n troue met die gedekte tafels, en buffet ete…..en dan natuurlik kunstenaars wat jou vermaak. Maar diè opvoering kon net nie aan die gang kom nie; die twee kunstenaars het mekaar om die nek bly val en bitterlik gehuil. Dit is Lekkervurig wat haar stoel agteruitgestoot en met “Genoeg is genoeg,” op die verhoog afgestap en die trappies met mening betreë het. “Kyk, sê sy vir die twee, “ons almal verstaan dat julle hartseer is dat julle nie SAFA toekennings ontvang het nie, maar dit is water onder die brug deur. Ruk julle nou reg en vermaak ons asseblief” en met die woorde oorhandig sy ‘n klomp sneesdoekies aan hulle, draai om en stap onder luide applous, fluite en gelag terug tafel toe. Heel duidelik het die gehoor gedink dat dit deel van die vertoning was.

Screenshot_2018-09-21-22-48-05-1Iewers deur die aand het ek vir Scrapy gevra of sy nie vir my ‘n sluk van haar energiedrankie wil gee nie; die besige dag het sy tol begin eis. Sy het ‘n bottel uit haar handsak gehaal, en die laaste wat ek onthou was die bittersoet smaak van die drankie in my mond. Ek het êrens deur die nag wakker geword; ‘n skrale kombers oor my getrek en gewonder hoekom die bed so hard en nou voel. Om my het die Towerinne in alle toonhoogtes gesnork. Dit was ‘n sagte gesnik wat my regop laat sit het. “Waar is ons,” het ek vervaard gewonder, my oë ‘n paar keer gevryf en tot my skok besef ons lê in ‘n tronksel. Ek het by Positief op die bed gaan sit, “Hoekom huil jy,” wou ek weet en moes toe hoor sy huil omdat die polisie die giggelgroen bus oppad huistoe, afgetrek, die bierbrode gekonfiskeer, en ons in diè sel toegesluit het, en nou is haar hoop om ooit in Calitzdorp te gaan bly daarmee heen. “Ek het gedink die bierbrode gaan ons nog in die moeilikheid bring.” As iemand net hulle doel aan my kan verduidelik.

Maar Positief was verniet bekommerd. Nog voor die son opgekom het is die sel oopgesluit, die bierbrode aan ons teruggegee, en sonder enige verduideliking is ons bus toe begelei deur ‘n paar polisiemanne. Dit was duidelik dat hulle so vining as moontlik van ons ontslae wou raak. Ons het na Hester gekyk, gedink sy sou op ‘n verduideliking aandring, maar sy was tjoepstil. Dit was nie op my agenda dat die Towerinne die Pretoria tronk moet besoek nie – maar wel nou het hulle, en ek dink nie hulle gaan dit gou vergeet nie.

unnamedDit was nodig dat almal weer tot verhaal kom en ‘n piekniek by die Rietvleidam was net wat die Towerinne nodig gehad het om van die vorige aand se stres ontslae te raak. Diè met meer woema kon die natuurreservaat besoek – maar ek wou net in my sonstoel lê en in die buitelug ontspan. Met Perdebytjie as voorbok het van die Towerinne die natuurreservaat binnegevaar, maar die ander het my voorbeeld gevolg en hulself gemaklik gemaak, met ‘n eet en drinkdingetjie in die hand. Lekkervurig het haar stoel daar doer eenkant gaan sit sodat sy haar “MILLs and Boon boek kan lees, Bondels het die rustige toneel voor ons -die dam met sy seilbote op – begin skilder, en Hester het met die dam langs gaan stap… seker om ou herinneringe te herleef. Te vining was die tyd om, en moes ons oppak om gereed te maak vir die laaste uitstappie voordat die Towerinne die pad Woordnoot toe sou vat.

Screenshot_2018-09-21-15-02-24-1

Ek was nie seker of almal lief is vir opera nie, maar “The Phantom of the Opera” is ‘n moet sien, maak nie saak of jy hom al voorheen gesien het nie. By die Stadsteater was dit ‘n gemaal van mense maar uiteindelik het die beroering bedaar, en daar is in afwagting gesit en wag vir die gordyn om te lig. In diè elektriesgelaaide atmosfeer kry Toorts ‘n nood wat haar uit haar stoel laat opspring en deur toe laat nael. Trommeltjies wou agterna, maar op Hester se aandrang het sy bly sit. “Netnou is al wat ‘n Towerin is op soek,” het Hester verduidelik. “Toortsie sal wel haar pad terugvind.” wat toe nie gebeur het nie. Ons het tervergeefs gewag, en WoordNoot en Trommeltjie het gaan soek, tot op hulle shofars geblaas met die hoop dat Toortsie dit sal hoor, maar alles tevergeefs…. Toorts was weg.  “Sy het natuurlik weer verdwaal, en in die proses ‘n ander sitplek gekry,” het Hester die saak opgesom, en ons het dit so aanvaar.

Screenshot_2018-09-08-16-57-55-1Die vertoning het begin. Ons het vasgenael op ons stoele gesit toe Seegogga meteens hard fluister, “Is dit nie Toortsie daar op die verhoog nie?” Nekke het gerek, oë is op skrefies getrek om beter te kan sien, en party Towerinne het tot opgestaan. Die mense om ons het ons vies aangespreek, gesê ons moet sit en stilbly maar ons was horende doof. Toe Christine begin sing was daar by ons geen twyfel meer nie, dit was Toortsie. Die res van die vertoning het soos ‘n droom verby gegaan. In die toneel waar Toorts… ag ek bedoel Christine, op ‘n bootjie uit die donkerte aankom en deur die Phantom ontvang word, en hy sing vir haar The Music of the Night was daar nie ‘n droë oog onder die Towerinne nie. Perdebytjie wat sê sy is nie romanties nie, het in haar sakdoek gesnik, en later vir Lekkervurig sneesdoekies gevra.

Toe daardie gordyn sak kon niks ons keer nie, ons is soos een man deur die skare, en het ” Toorts se kleedkamer,” binnegestorm. Die prentjie wat ons begroet het was van ‘n snikkende Toorts, omring deur blomme met haar pruik windskeef op haar kop, en mascara wat swart strepe oor haar wange loop. So tussen die trane deur hoor ons haar storie. Sy was besig om haar hande te was toe sy weggevoer in haar eie gedagtes kliphard ‘n gedeelte uit The Pantom of the Opera gesing het. Die volgende oomblik het die deur oopgebars ‘n man het binnegestorm, haar gevra of sy hulle sal uithelp, en voordat sy behoorlik weet wat haar getref het was sy in ‘n korset ingewurm, aangetrek, grimmeer, pruik op haar kop gesit, en verhoog toe gestuur. “Was dit nie vir die korset nie,” vertel sy snikkend, “sou sy nooit daardie hoë note gehaal het nie.” “Dit moet gevier word,” sê tannie Frannie. “Waar is ‘n ordentlike restaurant?” Al waaraan ek op daardie oomblik kon dink was “Life Grand Cafe The Club.” Hulle kos is uitstekend, en daar is ‘n groot verskeidenheid om van te kies. Dit behoort diè dramatiese dag mooi af te rond.

Screenshot_2018-09-21-16-31-30-1Ons is daar weg in die giggelgroen bussie. Dit het soos ‘n byenes geklink soos elkeen haar sê wou sê, maar by die restaurant het dit redelik stil geraak toe die Towerinne na die spyskaart kyk. “Moenie pryse kyk nie Towerinne,” het tannie Frannie gesê, “Let’s eat, drink and be merry,” en met die opkykslag sien ons sy sit daar aan die hoof van die tafel met ‘n skitterende glimlag op haar gesig, en ‘n halwe wit brood – soos ‘n trofee omhoog gehou-  in haar hand. Die volgende oomblik word die prentjie helder verlig deur die flits van ‘n kamera, en toe ons omkyk sien ons net die pante van ‘n swart gewaad om die hoek verdwyn….. of was dit net ‘n “phantom?”

Bogenoemde is alles fiksie, en het geen betrekking op enige ware gebeurtenis nie.

 

 

220 gedagtes oor “Lê-jou-eier-kuier-safari – Ons ry met die bus na Pretoria

  1. Kameel! Jou wonderlike dier! Dit was ‘n heerlike kuier waarmee jy ons vermaak het. Lorenzo – wat kan ek sê; hy hoef mos nie te praat nie, hy moet net lýk. Kan ons hom hou? Die valskermspringery was ‘n briljante idee en die spook was … spokerig. Ja, en please explain – ek en Lorezo was doodnugter, so hoekom was ons ook in die tronk. Gelukkig kon ons die polisie oortuig van ons onskuld en ons kon ‘n oproep maak. Die Rietvleidam lyk anders en tog dieselfde. Die hoogtepunt: Christine in die Phantom was fabulooslik, maar kan iemand nou asseblief vir Toortsie stilkry? Al die singery – ek kan nie slaap nie.

    Liked by 5 people

    1. Ek glo Lorenzo sal alte graag verder saam met die Towerinne wil toer 😁😁😁 al het dit hom ook ‘n nag in die tronk gekos. Sal sien wat besluit WoordNoot. Ek is bly jy en Lorenzo was nugter… en dat julle ons uit die moeilikheid uitgekry het… jy verstaan my koninlike familie en hulle image. 😇 Hoe ons Toorts ooit weer gaan stilkry weet ek nie…gelukkig is sy nou uit die kombuis uit 😊 Sommer so terloops… daardie kamer het blykbaar ‘n spook. 🙄

      Liked by 1 person

      1. Miskien kan jy ons vertel 😊 die twee nugteres in die storie. Of anders is dit al die bewonderde oë op hom terwyl hy daar in sy stoel sit en bestuur. Hy kan mos in die truspieël sien wat gaan aan.

        Liked by 2 people

      1. My kop was te besig met ñ plan om die potjie uit te smokkel, so my fokus was verdeeld. Die potjie het nou ñ nuwe huis… Maar moenie laat Kameel dit hoor nie. Die polieste was te dom om my ook te deursoek, hulle was net agter die brood aan. Google sê die potjie is ñ fortuin werd…

        Liked by 6 people

      2. Kameel het nounet gehoor en is tot in haar tone geskok. Nou sit ons nog met ‘n potjie ook wat ‘n fortuin werd is. Die polisie Una… die polisie…ons wil nie weer aan die vlug raak nie GROOT SEBLIEF!!!

        Liked by 3 people

      3. Ek dink nie so nie Frannie. Hy was daar in die agtergrond met ‘n wakende oog oor jou. Ek het gewonder of hy iets met ons skielike ontslag uit die tronk te doen gehad het maar Hester het ‘n oproep na iemand gemaak wat dit bewerkstellig het. Sal graag wil weet wie hierdie “iemand” is.

        Liked by 4 people

      1. Jy gaan nêrens! My man het my net laat kom omdat jy ook op die bus is. Hy sê hy kan net vir jou met my vertrou, want al wie hy nog ken, is sy sussie, Trommeltjies, WoordNoot, en Bondels, en hulle beteken glo niks as ons saam is nie!

        Liked by 4 people

  2. Kameel ek wou jou nog vertel het. Ek was by die ou Blou Hond in Johannesburg in 2004 daar by hulle humble beginnings. Ons het middagete daar gehad waarvoor ons werkgewer goedgunstiglik betaal het (chicken ala king uit hondebakke wat Susan Coetzer vir ons voorberei het). Susan het vir ons gehuil soos ‘n hond voordat ons geëet het en Philip Moolman het gesing gedurende ete. Hy kón sing en was sag op die oog. Dis so ‘n voorreg om Suid-Afrikaanse talent in so ‘n atmosfeer te beleef.

    Liked by 5 people

    1. Eers ‘n misverstand regstel. Jy het oor die gas gepraat wat aangebly het Hester. Die toergids het my en my vriendin alleen deur die huis geneem (Ek kannie so lank staan nie dus is ek in elke vertrek vertel op watter stoel ek kan sit terwyl sy vertel.) In dié kamer het sy net van die gas wat aangebly het vertel…en nie die rede gegee nie. Sy sê toe dat daar al gevalle was waar ‘n besoeker iemand in die leunstoel waarop ek sit, sien sit het….of hom op die bed sien lê het 😨
      Ek onthou vaagweg ‘n fliek of ‘n series waarin Phillip Moolman gespeel het… hy was sag op die oog 😊 My kinders is lief om na Die blou Hond toe te gaan vir ‘n aand se lekker vermaak.

      Liked by 3 people

      1. Mooi vir jou. Jy het nie ook reëndruppeltjies aarde toe gestuur… waarin Una en haar instrukteur hulself kon verlustig nie. As ek Grieks praat moet jy die kommentare lees.

        Liked by 1 person

  3. Kan ek net hier intree asseblief! Ek verjaar een van die dae, los Lorenzo uit sodat ek hom ook kan waardeer. Positief nee, ek gaan Grim laat weet hy moet jou kom haal as jy nou so baie aandag aan die man gee. En Hester, hou jy jou ook hier uit, gee my nou ñ beurt om so ñ smeulende stuk mens alleen te leer ken! Op ñ afstand natuurlik, so daar terwyl hy op die bus se stoel sit. Als heel onskuldig, want onthou, my skoonsus is saam.

    Daai spook, julle gaan nog sien, ek raak nie koekoes nie! Hy het daar gesit en julle almal het hom sonder skaamte bekyk! Vir my sê die dag se opwinding was dalk te veel! Se gaai, ek kan baie hanteer, en Kameel, EK HET DIE HOND RAAKGESIEN…

    Liked by 4 people

    1. Ek het nou kliphard gelag vir julle en Lorenzo… op ‘n afstand, daar waar hy op die bus se stoel sit 😁😁😁😁 Ek weet jy het die spook gesien… of die Towerinne jou gaan glo??? Sorry Una… ek moes uitkyk vir jou met daardie hond daar, wat sal Bertus sê as jy ALWEER…….

      Liked by 2 people

      1. Huh. Blou? Uhmmm, nee Frannie, wit. Die brak was wit! Dalk witblou, ag, ek onthou nie meer nie! En Frannie, het jy aan jou tande laat werk? Ek soek jou tandarts se nr,asb, met dié dat ek my voorste krone nou so losgeval het…

        Liked by 3 people

    2. Kyk, ek is nou wel laat, maar seker oor die skok- ek meen valskermspring!. Nog nooit vir ‘n kaartjie betaal en voor die landfing die plane verlaat nie, Kameel, dit was erg. So bly Una het gepp dat niemand gehoor het hoe ek gil soos ‘n geelgans nie. En ousus, ek wil net vir jou sê, familie of te nie, die ding dat jy mense sien wat nie daar is nie, freak vir my so bietjie uit. G’n wonder ek kom nou eers by nie…

      Liked by 2 people

  4. woordnoot

    Kameel….ek moet sê, die Towerinne was gelukkig almal so besig om uit daai aerie te val dat julle die blaps van die dag gemis het. Jy moes my gewaarsku het om skoon klere saam te vat. Dis nou die tweede keer dat ek kolle los waar ek nie moet nie…ek gaan een van die dae ‘n bynaam kry..iets soos Natpants of iets, sjoe man! Ek ly aan ernstige hoogtevrees! Maar eish…ek het hierdie deel van die toer net so geniet.

    Liked by 3 people

    1. So dit was nie reëndruppels wat ek gevoel het nie? Ek en my instrukteur het hoeka uit volle bors begin sing toe ons nou so nat word…reëndruppeltjies, reëndruppeltjies, reëndruppels vir… So jy het my natgepiepie!

      Liked by 4 people

      1. woordnoot

        Ag hemel Una….as jy nou so daarop aandring om die waarheid te weet….maar ek sweer dit was nie moedswillig nie…ek is SO jammer! Ek sal volgende keer maar twee panties oormekaar aantrek.

        Liked by 2 people

    2. Maar jy was darem vasgegordel aan ‘n heel aantreklike instrukteur as ek reg onthou. Ons sal maar die nat kolle verskoon want ek verstaan dit heeltemal, en sou ook met nat klere moes loop het ek gespring. Bly jy het die toer geniet. Miskien moet ons maar in die gevolg droë klere inpak, net vir die wis en onwis.

      Liked by 2 people

      1. woordnoot

        Ek sal dadelik die Oom aansê om n xtra tassie by die volgende punt te gaam los…ek slaan nou my naam met n vreeslike plank. Daai instrukteur was hot…sy looks…later sy been ook😈

        Liked by 2 people

      1. woordnoot

        Ja nee, Bondels, en dis nog net die begin van hierdie toer! Dalk moes ons ‘n videograaf saamgenooi het. Hierdie kan Big Brother en Survivor soos kinderkransdans laat lyk en wie weet, ons Towerinne kan megabucks maak uit die royalties!!! Sommer genoeg vir nog n toer!

        Liked by 1 person

  5. Ek antwoord weer in Sarsies. Jammer jammer jammer Kameel, ek kon die lelike woorde wat by my mond uitgeglip het by die valskerms, nie keer nie. Ek wou graag, maar kon regtig nie.
    Mooie mannetjie dié busbestuurder. Wie van ons groepie is almal enkellopend?
    En terloops, ek kou nie aan die gasvrou bly aan wal storie nie.

    Liked by 5 people

      1. Ai tog, dat jy my nou so kan laat skuldig voel. Iemand het nou die dag vir my gesê ek kan my naam enige tyd verander, want Una is net ñ noemnaam. Wat van ek word Amelia met ñ A, net vir hierdie rit…

        Liked by 5 people

    1. Jy is skerp Toorts… die gasvrou bly aan wal. Jy het my uitgevang!!! Ek het daardie woord gehoor… en amper my kleintongetjie ingesluk. Onse Toorts!!!! 😨 Jou landing was nie te sleg nie… wens ek het videos geneem. 😄

      Liked by 2 people

      1. Het jy net een woord gehoor? Hulle het behoorlik uitgeglip. Ek dink dis die adrenalien wat gemaak het dat ek sommer die note raakgesibg het. Dis hoog, hoor! Amper so hoog soos die valskerm!

        Liked by 3 people

  6. Ek wonder net of Pablo dalk met ons vinnige vrylating te doen het? Dis dié dat Hester so ‘n ‘knowing look’ in haar oë gehad het. Of was dit ons paparazzo wat ons kom red het. Seker eerder hy! Hy bly darem ‘n ou staatmaker!

    Liked by 3 people

      1. Kameel is die bloggers se biegmoeder, en Toortsie ons gewete. Hulle is ń gedugte span… Indien enige iemand eksepsie neem oor my rebelse kommentare, ek het nog jetlag, so julle is genoodsaak om te vergewe. Ek sal julle in kennis stel sodra als weer normaal is.

        Liked by 3 people

      2. Jy is nou hier ingelyf en al… so ontspan…jy het sovêr ek weet nog niks gedoen wat tronkstraf tot gevolg kan hê nie…en om met Lorenzo te wil gesels is ook heel onskadelik. 😊

        Like

  7. Helaas was hierdie beweerde Paparazzo ook nie saam na Pretville nie. Ek was by Una se Pretville maar ek praat hier van die Pretoria Pretville wat baie duidellik nie deur Kameel gereël is nie maar deur Camilla. Ek is skoon uitasem van al die bedrywighede en dit bloot van lees. As ek daar was sou ek, ‘n paar 132gb data kaarte moes saamneem vir al die foto neem 📸 en my kamera teen slytasie moes verseker!

    Liked by 5 people

    1. Camilla het my wel ‘n paar “hints” gegee… maar die museum was my idee. Wens jy was daar om die Towerinne se landing af te geneem het… jy sou daai fotos kon verkoop. 😁😁😁😁 So jy was nie die een wat die foto van tannie Frannie geneem het nie?

      Like

  8. Wragtag nou het ek alles gehoor en beleef. Ek’t heeltyd op die punt van my stoel gesit terwyl ek die mannewalise lees. Genade maar jy het n lekker uitstappie gehad! Kan net my kop skud en dankie se dat dit nie regtig was nie. Amper het ons nog vir ou Pistorius gaan kuier daar in die tronk! Dis mos n luukse plek as jy die regte misdaad gepleeg het!

    Liked by 3 people

  9. Terugklingel: Dit was so hittete – toortsie.com

  10. Terugklingel: Pretoria in 2 ure – Abrie dink hardop

  11. Terugklingel: Was daar ñ spook…? – Bali Drome

  12. Ag nou ja julle, hier is ek mostert na die maal, maar ek moet ook darem my eier lê na die verstommende kuier in Pretoria, net jammer van die reperkussies vir my…. Die towerinne het nie eers gewonder wart van my geword het nie, maar helaas hier is ek terug. Kom ek vertel
    Na ons uit die tronksel vrygelaat is en in die uitstap proses, deur daai donker gange voel ek ń hand oor my mond en word ek in ń donker hoekie getrek, terwyl julle niksvermoedend voort stap. Tot my verbasing was dit Brodina. Sy is ń baie gemene vrou en het my vasgebind en aanhoudend uitgevra oor die toer en die “brode”. My mond was gesnoer. Sy het my so baie frangelico laat drink, sy het glo gehoor dis ń tong losmaker. Al wat dit tot gevolg gehad het was dat haar rok ń heel ander kleur en geur gehad het 😊. Met die hele katastrofe vir haar en geluk vir my was dit die nodige aandag afleiding en kon ek ontsnap. Dankie tog dat Silver met sy moterfiets voor die gebou was ( hy het daar staan en wag om te sien waneer Frannie vrygelaat word) al die tyd op gereedheid. Ek is agterop sy fiets en ons het behoorlik gevlieg deur die strate, net te laat vir die sang debyuut van ons eie Toortsie😭. Dankie tog dat ek die sang na die tyd kon geniet, dankie Toorts dat jy die hele repetoir vir my deur gesing het. Sis en julle dag sy het grootkop gekry, al die tyd het sy ń mede towerin gelaaf met haar sang.

    Liked by 3 people

    1. Nou maar hoe de swernoot… Silver sou dan van Broodina ontslae raak. Trommeltjies het jy nie gehallusineer van al die hmmmm nie. Jy was rêgtig van begin af by stadsteater… jy en BroodNoot…ag ek bedoel NootBrood….nee man WoordNoot het nog na Toorts gaan soek toe sy sommer so verdwyn het. Nog op julle Shofars geblaas ook. Al daardie Frangelico’s is net nie goed nie… het van die begin af vir Toorts gesê!!!

      Like

  13. Ek het nou omtrent heeldag geneem om al die kommentare te lees. Briljante toer wat jy vir ons saamgestel het, Kameel! Ek dink tog my gegiggel was die oorsprong van senuwees, elke keer as Lorenzo in my rigting kyk…..onthou, oud maar nog nie koud.

    Liked by 2 people

Gesels met my ...

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s