Kameel – Terugflitse

Scrapy se Maandag=Wasdag Uitdaging No 13.

Van verlede Vrydag is dit al wat ek doen. Ek probeer myself loswoel uit die arms van onthou, maar dit wil my nie laat gaan nie. My ousus se skoonseun is oorlede en verlede Vrydag was sy gedenkdiens. Verversings is daarna by ‘n koffiehuis (‘n gewone huis tussen ander ou huise) in ‘n (vir my) baie bekende voorstad en straat aangebied. Die straat!!! Die straat waar ek en sy tieners was; die straat met die kafee op die hoek waar ons uitgehang het saam met ouens in nou swart broeke wat definitief nie my ouers se goedkeuring sou wegdra nie.

Sy is saam met my by die koffiehuis. ‘n Ou man met ‘n kierie verskyn soos ‘n skim uit die verlede voor my. Net sy blou oë – waarin jare se onnutsigheid nogsteeds vonkel – vertel my wie hy is. Ek vra of hy weet wat van haar dogters geword het…. hy trek net sy skouers op. Na haar dood 25 jaar gelede het hy tred verloor. “Hoekom wou jy nie meer lewe nie!!!” weergalm dit deur my….. en in die dae wat volg vra ek die vraag oor en oor.

Nie vêr van die koffiehuis af nie is die huis waar my eks se ouers gebly het. Nie ‘n aangename gedagte nie….. en ek wonder hoe my ouers gevoel het. Nee, ons was nie skatryk nie maar daar was definitief klasverskil. Aan die bopunt van dié straat begin die rykmansbuurt soos dit daardie jare bekend gestaan het. Daar het my ouers (nie eers ‘n blok verder nie) twee huise laat bou.  Een was ‘n losieshuis vir onderwyseresse, die ander een ons woonhuis. Dis die huis waar my eks kom kuier het…. en my lewensdrama in alle erns begin het.

Ek ry saam met Chanté van die koffiehuis af terug. Skaars by die bopunt van die straat afgedraai of sy maak ‘n u-draai. “Ouma hulle se huis is so naby, kom ons gaan kyk hoe lyk dit nou.” Sy ry stadig verby die huis en sê dit bring soveel herhinneringe terug. “Are you kidding me!!!” wonder ek. Die hele dag sovêr is net herinneringe…. terugflits, na terugflits en my hart is seer. Sy probeer tevergeefs die kar omdraai… die verkeer is te druk. Na ‘n rukkie besluit sy om verder aan te ry en by die verkeerslig regs te draai en om die blok te ry. Ek het dit nie besef nie maar die volgende oomblik voel dit of iemand my ‘n hou op my maag gee. Soos sy ry doem daar meteens ‘n blok duplex woonstelle voor my op. Daar waar ek en Ken, met Kenneth as baba gebly het. Weereens spoel die herinneringe oor my.

In ‘n paar uur het my lewe vanaf my tienerjare tot met my egskeiding, en die beginjare van my lewe saam met Ken voor my afgespeel. Hopenlik vervaag die terugflitse nou…. as ek net kan weet wat het van haar dogters geword.

Mooi loop!!!

28 gedagtes oor “Kameel – Terugflitse

    1. Sou ook dit alles wou vermy Una. Nie besef hoe hard dit gaan slaan nie. Het nog nie rustigheid nie… te veel seer onthou het voor my afgespeel. Die lang pad waarvan ek jou altyd vertel… en die moeg…. jy verstaan.

      Like

  1. Daardie terugflitse is gladnie lekker nie. Dit het ook die vermoë om ongesiens op te daag. Dis hoekom ek ook net eenkeer terug gegaan het na waar ons gebly het omdat my seun wou gaan. Ek wou eintlik gladnie weer gaan nie. Selfde met graf besoek. Eendag dit gedoen en dit was die laaste. Tog dit bly my kind se pa en deel van ons albei. Dis goed jy het sommer dit neergeskryf sodat dit kan oop kom om die wond te laat heel en verklein. Dankie dat jy geskryf het al het dit jou so broos gemaak. Moed, blymoedigheid en kalmte van gees wens ek jou toe.

    Like

      1. Presies wat my vriendin gesê het. “Nou het ek my hele hart hier by jou kom uithuil,” het ek aan einde van dag vir haar gesê…. maar met ligter tred huistoe gegaan.

        Like

      2. Dis eintlik lekker as jy so uitgepraat het met iemand wat jy vertrou. Die Sekretaresse by die hoërskool waar ek skool gehou het was n kwaai ou vrou maar sy was my hartsvriendin deur dik en dun. As dit nie vir haar was nie sou ek ook maar moed opgegee het. Jy moet n rustige aandjie hê. Hier is BAIE reën aan die kom en gebeur.

        Liked by 1 person

  2. Terugklingel: Terugflitse – toortsie.com

  3. Terugklingel: Maandag=Wasdag 14: Waarvan hou jy meer? – Kreukels en plooie

Gesels met my ...