Kameel – Water

Scrapy se Maandag = Wasdag Uitdaging No 42

Water sê Scrapy… en ek krap kop en dink… en dink… en dink. By hierdie tyd weet almal van my liefde vir die see, en om sy branders te ry. Ook dat ek so amper in Richardsbaai verdrink het. Wat meer is daar oor water te sê? Ek gril vandag as ek dink dat ons as kinders in groen slyk en tussen paddavissies in die plaasdam leer swem het. Wanneer die stoomtrein na of van Rhodesië af daar verbykom het, het ons op die damwal gespring en ywerig gewaai. Oooo hoe lekker was dit wanneer die drywer en stoker terugwaai, en die trein begin fluit. Nou dat ek daaraan dink was dit seker vir my twee ouer susters wat dié vertoning was. Maar wag… ek het tiener geword en op sestienjarige ouderdom was my susters nie meer saam nie.

Hoe lief ek ook vir water was, was daar ‘n paar noue ontkominge wat my laat besef het dat water nie net speletjies is nie. Ek sien God se hand van beskerming hierin, en kan Hom tot vandag nie genoeg bedank vir sy Genade nie. Antoine, my sus Rika se seun is as kruipende baba deur die tuinier as verdrink uit ons swembad gehaal; hy het oorleef en geen breinskade opgedoen nie. Timothy my oudste seun is tweekeer as kleuter deur vreemdelinge van verdrinking gered. Die derde keer is hy op vyfjarige ouderdom as dood op die bodem van ‘n swembad gevind. Daar was ‘n koerantberig oor die seuntjie wat as verdrink hospitaal toe is, en wat weer begin asemhaal het. Genade onbeskryflik groot!!! Kenneth het as klein seuntjie amper in die see verdrink; ook daar was ‘n vreemdeling die beskermengel. Dan op hierdie erf, toe ons kleinseun wat net kon loop sonder iemand se medewete in die swembad geval het. Daar was net “iets” wat my oor die stoepreling laat loer het, net betyds om hom onder die water te sien verdwyn. Die swembad was daardie jare swart geverf en mens konnie in die water sien nie. Dit het soos ‘n ewigheid gevoel om by die swembad uit te kom, en toe klere en al daar in te spring. Nee, water is nie net ‘n speelmaat nie.

Partykeer is ek spyt dat skoonseun sy boot verkoop het; alhoewel die riviere nie nou meer so skoon soos vroeër jare is nie. As familie het ons heerlike tye by die water deurgebring. Daar is geski… iets wat ek nooit gedoen het nie. Wat wel heerlik was is om op daardie groot band te sit en agter die boot aangesleep te word. Dit was wild, maar nog wilder wanneer skoonseun net in die rondte begin ry en ek soos ‘n tol in die water begin draai. Ek het vir lewe en dood geklou om nie afgegooi te word nie… wat natuurlik skoonseun se doel was. Miskien is dit te danke aan hom wat my kop vandag nog spin.

Mooi loop!!!

19 gedagtes oor “Kameel – Water

    1. Dit was beslis n besige lewe…. en ek dink die beskermengele het bontgespring. Het darem nog een paar vlerkies in my kas…. die meeste kinders is nou groot genoeg; net nog my seun se twee kleintjies.

      Like

    1. Neeeeeeee Hester asb nie. My laaste poging het mos in ‘n fiasko verander met my dronkkop. Ek het finaal die branderryery vaarwel toegeroep 😢😢😢 Gisteraand gesels ek en ons pastoorsvrou van 35 jaar gelede oor die foon. Sy vertel hoe sy my my energie beny het, en die dinge wat ek aangevang het. Ek moet myself maar troos met die wete dat ek voluit gelewe het.

      Liked by 1 person

    1. Kry net vanoggend ‘n geestelike boodskap van ‘n vriendin af… en waaroor praat die pastoor? Water!!! Ja vrou ek het baie dinge in my lewe belewe. Wanneer ek terugkyk op die pad besef ek net hoe onbeskryflik groot God se Genade oor ons was, en nog steeds is. Lekker slaap!!!

      Like

  1. Terugklingel: Maandag=Wasdag: 4 BRAND – Kreukels en plooie

Gesels met my ...