Kameel – Musiek

Scrapy se Maandag =Wasdag Uitdaging. No 34

In ons huïsgesin was daar nie ‘n musikale haar op iemand se kop nie. My pa se stem was nie sleg nie, maar musiek het geen rol in ons huis gespeel nie. My ouers het nie ‘n plaat besit nie, en daar is nooit na musiek geluister nie. Orrel en kerkmusiek was waarmee ek grootgeword het; en dan die opera en balletuitvoerings waarheen my ma my nou en dan geneem het. My stiefouma en haar man het by ons gebly. Karel, haar laatlammetjie seun was ‘n kelner op die bloutrein, en hy het nou en dan met sy vriend Floors by ons kom oorbly. Dit was heel lekker want dan het hy die verbode sitkamer binnegegaan en sy plate gespeel, waarvan die Briel susters sy gunsteling was.

My hordes neefs en niggies het begin trou, en as daar nou een ding was wat hierdie klomp Otto’s kon doen was dit dans. Ek was van die kleineres dus het ek nooit leer sokkie nie. Maar daardie boereorkes en dansende lywe sal my altyd bybly. En dan was daar die Volkspele kompetisies. My ma het die rokke gemaak, en ons het na die kompetisies gaan kyk. Ek het al daardie liedjies uit my kop geken waarvan “Kom Patertjie” my gunsteling was.

En toe verskyn die tokkelok – wat na my sus Rika gevry het – op die toneel. Hy was uit musiek aanmekaar gesit. Met sy trekklavier daag hy op en sing vir haar met sy mooie stem “Tahiti (Verre land.) Hulle lied; later jare op sy begrafnis is daar ook ‘n lied van hom spesiaal vir haar gespeel. (Ek het gou na Tahiti op You-tube geluister, en nou rol die trane.) Hy sou ons deur die jare met sy klavier, orrel, trekklavier en mooi stem vermaak, maar met sy ernstige siel was dit nie ligte musiek nie. Sy gunsteling was opera.

Ek moes êrens in my tienerjare ‘n radiotjie van my eie gekry het, want hoe anders het ek na Pat Boone en toe Cliff Richard geluister? Van Elvis het ek net gehoor maar ek was ‘n Pat en Cliff “fan,” en het nie omgegee dat die meisies by die skool vir my lag nie. Ag, en toe verloor ek my hart op Elvis nadat ek – baie teen my sin – na Jailhouse Rock gaan kyk het. Ek moes net ‘n platespeler kry, en het my pa so verpes dat hy uiteindelik toegegee, en saam met die platespeler my eerste “seven single – Blue Train,” gekoop het. Dit was nie ‘n Elvis plaat nie, maar jy lei nie jou kind die verderf in nie. Daar in my kamer saam met my wilde Engelse vriendin, het ruk en rol musiek aanhoudend geblêr, en het ek leer “jive.” Eers heelwat later sou die “jive” my goed van pas kom… want ons was verbied om “club” toe te gaan.

As daar een ding is wat ek tot vandag nie kan verdra nie is dit ‘n radio waar daar gepraaaaat word, en dan speel ‘n lied…. dan praaaat hulle weer. Dus het ek selde na radiouitsendings geluister, behalwe af en toe na LM en die “Top 10,” en êrens het “Country and Western” musiek ‘n plek in my hart uitgeskrop. André het op die toneel verskyn. Hy was ‘n harde werker en definitief nie ‘n musiek en dansfanatikus nie. Ek kan my glad nie indink dat ons ooit na musiek geluister, of gedans het tot daardie aand wat hy vir my ‘n verrassingspartytjie by ons huis (ons was toe 6 jaar getroud) gereël en tot ‘n orkes gehuur het nie. Die mense was maar vreemd vir mekaar en die dansery iewat stram… en toe stap Ken die vertrek in. “Is this a party or what?” vra hy, gooi sy arms in die lug en begin sy lenige lyf swaai. Ewe skielik vat alles vlam, kry die stroewe korpse lewe, en dit dans en “jive” dat die vonke spat. Hierdie uitwerking het Ken op elke geleentheid gehad wat ek en hy in die jare wat kom bygewoon het. Ons altwee was “party animals,” en keer op keer het tot die “stiff upper lip” Engelsmanne waarmee ek saamgewerk het vir my gesê, “A party is not a party without you and your husband.” Musiek met “beat” wat jou lyf laat lewe is tot vandag ‘n groot gunsteling… maar ek luister selde musiek.

Dit is seker deur die tv dat ek ‘n paar Afrikaanse sangers leer “ken” het. Gé Korsten, Rina Hugo ens. Hulle sing mooi maar net soos met boeke verkies ek Engels. Die lewe het baie besig begin raak en met so ‘n groot huishouding was die lawaai oorweldigend. Stilte het vir my ‘n luukse geword wat ek nie eers deur musiek wou laat steur nie. Op ‘n dag kom Ken se vriend by ons huis aan. Ek laat hom binne. “Dit is so stil soos die graf hier… nie eers bietjie musiek om die stilte te verbreek nie,” sê hy verwonderd. “Het jy ‘n idee hoe wonderlik hierdie stilte is wat oor my toesak wanneer die laaste kind in die oggend skool toe is,” vra ek hom. “Het jy ‘n idee van die orkaan wat my elke middag tref?” Hy kon net lag. Die kinders is lankal uit die huis, en besig met hulle eie lewens… maar my liefde vir totale stilte het gebly. Wanneer ek lus is om na musiek te luister sit ek dit of so kliphard dat dit my oorweldig… of ek sit my oorfone in en luister rustig na die stem wat God loof en prys.

Mooi loop!!

23 gedagtes oor “Kameel – Musiek

  1. Dis nou n lekker terugdink gewees. Ek het ook nooit kans gehad vir n dansery nie want my pa het nie tyd vir sulke dinge gehad nie. My ma en haar broer het baie gedans toe hul jonk was. Toe ek eenmaal uit die huis weg is het my oudste suster en my swaer my onder hande geneem en saam na regte boeredanse geneem. My swaer het my geleer, hy was n baas danser. Dit was nogal lekker gewees. My ousus was ook n goeie danser saam met haar man omdat hul op die rand gebly het waar hul naweke lekker gejol het. Ek kan ook verstaan dat jy van stilte hou as jy so n bedrywige huishouding gehad het. Dankie vir die heerlike skrywe.

    Liked by 1 person

    1. My op vêr paaie teruggeneem Scrapy. Kan jy dink tot die Briel susters onthou. Kon net nog nooit vasdans nie, maar dis vir my mooi im te kyk veral as ‘n paartjie rêgtig goed saamdans. Ja die liewe stilte. Nooit gedink toe ek jonk was dit sou my oorkom nie. Ek het wanneer Ken weggewerk het partykeer vir weke by my Sus Rika in Polokwane gaan kuier. Dit was heerluk… maar ai daardie liewe radio wat van vroegoggend tot laataand aan is kon my teen mure uitdryf. Ek het baie die stulte van my kamer gaan opsoek en sit en lees. Sy kon my nie kleinkry nie, maar het darem verstaan en my laat gaan. Wat sy weer nie kon vat nie is wanneer ek die dag Geestelike soaking musiek geluister het. Ek het dit sag gespeel maar sy het gehoor en my kom uittrap. “Daardie musiek sal jou in ‘n gat van depressie laat beland,” het sy kwaai gesê. So verskil mens maar nê. Dit bliksem en donderweer hier… en reën emmers vol. Nie vêr gekom met my wasgoed was nie. Geniet jou dag verder en lekker slaap.

      Like

      1. So bly om te hoor van die reën. Vandag het dit sover nog droog gebly. Baie skade in Hastings gehad en dit reën steeds daar. Probleem is die grondstortings wat so alles verpletter. Nooit regtig na Briels geluister nie omdat ons nie draadloos geluister het nie. Geen krag gehad en batterye is gespaar vir 7 uur nuus saans en Vrydag aande n uur LM radio. Was ook nie baie lief vir die SA sangeresse nie Min Shaw het my bv n kramp gegee met haar gesnik. Dis maar my Hollandse opvoeding wat deurgekom het. Ons het baie Hollandse liedjies gesing. O en Jim Reeves wat in Afr gesing het. Those were the days my friend. Heerlike tye. Ek dans nie juis die los danse nie. My swaer het lekker vas gedans. Vandag se ritmes is vir baie lekker om mee saam te dans. Doen dit tot vermaak van kinders(dit was toe ek nog hulle by skool opgepas het!)

        Liked by 1 person

  2. Terugklingel: Maandag=Wasdag: 35 Kind/ers – Kreukels en plooie

Gesels met my ...

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s