Kameel – Ryding

Scrapy se Maandag =Wasdag Uitdaging. No 33

My hele skoolloopbaan, en jare se werk in die middestad daarna was busdienste my vervoer. Daar was geen rede of enige behoefte om ‘n bestuurslisensie te kry nie. My bestuurslisensie het ek later jare gekry deur ‘n wettenskap met Ken, dat ek wel in staat is om te bestuur. Laat ek sommer hier erken dat dit een groot nagmerrie was om daardie wettenskap te wen… en ek dink die “spietkop” wat my op die pad uitgevat het, het ook daardie nag in angsweet wakker geskrik. Dit was egter die grootste bestiering dat ek my lisensie gekry het, onwetend dat ons oor ‘n maand tussen die mielielande gaan beland waar geen busdienste was nie. Ek sou omtrent gestrand gewees het met die naaste dorp 30 kilometers van ons af. Ken het ‘n blou Audi gery. Die manne by die werk het hom vertel hulle noem my die blou blits omdat ek so vinnig ry. Ek dink nie hy het hulle geglo tot die dag wat ek hom vanaf Randburg gebel het om te sê ek vertrek nou van my ma hulle af nie. Hy en ‘n vriend van hom was besig om ‘n gordynreling op te sit toe ek die huis instap. Sy gesig was die ene verbasing, en hy wou weet hoe het ek so vinnig by die huis gekom. My antwoord dat ek al agter ‘n Mercedes gebly het, het hom nie beïndruk nie. Hy was bitter kwaad oor my onverantwoordelikheid. My “maar hulle sou hom eerste afgetrek het vir spoed,” het nie veel gehelp nie.

Treinry, en veral op die trein slaap sal altyd van my kosbaarste heninneringe bly. Van kleintyd af al die pad Betsjoeanaland toe saam met my twee sussies. Die stoomtrein se geblaas, die wiele se klikke klak oor die spoor, en die rympie “Sakke, pakke, sout en peper, gee my stoom dan loop ek beter,” laat my hart warm klop. Stasies, hulle name groot op ‘n bord, en melkkanne wat gelaai word; alles deel van wonderlike herinneringe. Ek kan aan geen beter plek dink waar ek my eerste soen gekry het, en die vrou in my wakker gemaak is nie.

En dan is daar die perdekarretjies. Wanneer my ouma ‘n ry melkterte gebak het wat die kombuistafel laat kreun, was dit hulle beurt vir die kerkdiens. Dit was so mooi wanneer die perdekarretjies met hulle wit seildakke met die stofpad aankom, en langs die doringdraad uitspan. Hoe bly was ek toe oom Stoffel, my oupa se broer eendag met sy perdekar by my ouma hulle stop om te hoor of sy iets van die negosiewinkel op Pitsani wil hê. Tot my groot vreugde vra hy of ek wil saamry. Dit was my eerste rit in ‘n perdekar… en dit was onvergeetlik. Ek was altyd spyt dat my oupa daardie jare ‘n motor besit het, en ons nie meermale met ‘n perdekar kon ry nie. Hy het darem ‘n horrelpoot muil aangehou, spesiaal vir ons kinders om te ry wanneer ons vakansies kom kuier het. Die prentjie van die muil wat Aletta – my vriendin wat saam plaastoe is – mooi netjies van sy rug afgeskraap het deur onder die peperboom deur te loop, sal my altyd bybly. Ook my boetie wat hy daar in die stofpad van sy rug afgegooi het, en toe nog die vermetelheid gehad het om hom ‘n skop te gee.

Mooi loop!!!

22 gedagtes oor “Kameel – Ryding

  1. Ek het nou lekker gelees hier Kameel. Jy het my sommer laat terugverlang na die dae toe ek nog met die trein en die bus huis toe gery het van Stellenbosch af, huis toe. Maar ‘n perdekar het ek nog nooit gery nie en dit was nog altyd op my bucket list. Daar in die Sederberge word daar glo nog toere aangebied waar jy met ‘n perdekarretjie kan ry. Wag net tot ek die Lotto wen!

    Liked by 1 person

    1. Bly jy het dit geniet Hester. Ja, wen daardie lotto en gaan ry op die perdekar. Dis so ‘n lekker ondervinding. Eienaardig hoeveel herhinneringe deur jou kop begin maal wanneer mens so terugdink. Dis so duidelik dat dit kompleet soos gister voor mens afspeel.

      Liked by 2 people

  2. Lekker gelees Kameeltjie. Ek het ook so bus gery vir jaaaaare tot ek lisensie gekry het. En ek het vir ‘n tyd lank vir die destydse spoorweg gewerk. Dit was my heel eerste werk na matriek. Ons het spesiale kaartjies gehad om te kan trein ry en vlieg. Jy het my vêr paaie terug geneem, dankie

    Liked by 1 person

    1. Het my ouderdom met die perdekar weggegee Unatjie 😂😂😂 Wens ek kan weer ‘n lekker stoomyrein ry en oornag slaap. My ouers ek en my broer is eenkeer Zim toe met trein. Drie nagte se slaap gewees.

      Like

  3. Dit was nou ‘n heerlike lees, Kameel. Jy neem my ver terug na ons treinritte as kinders. Daardie oorslaap en die reuk van ‘n trein binne. Twee dae se ry en die swart roet op jou vel en die kondukteur se waarskuwing om jou betyds reg te kry vir die afklim op die regte stasie…. waar is daardie dae?

    Liked by 1 person

    1. Heerlik, heerlile tye Bytjie. Eenkeer ‘n stukkie steenkool in my oog gewaai met die uitleun by venster. Die oog het hele vakansie probleme gegee… maar dit het nie my liefde vir treinry gekorwiek nie. Jip, waar is daardie tye. Kaartjies asseblief!!!

      Liked by 1 person

  4. Ag genade tog, daardie muile was ook maar iets op hul eie. Nou het jy nog meer herinneringe tevoorskyn gebring met die trein ryery. Skoon vergeet van trein ry. Ek het eerste jaar in Brakpan skool gehou. Elke naweek met trein huistoe(Pretoria) gery. Dis te lekker al hierdie flitse. Dankie dat jy so getrou n bydrae maak elke keer.

    Liked by 1 person

  5. jare terug het ek en ‘n kollegemaat Keimoes toe gery met ‘n trein. Die trein het op Upington gestop en toe moes ons nog ure ry tot op Kanoneiland. Op die trein was daar ‘n groepie weermagoutjies met wie ons deurnag geklets het. Ek onthou die geklak van die treinspoore en dit stop op elke stasie. Dit is ‘n heerlike herinnering.

    Liked by 1 person

  6. Terugklingel: Maandag=Wasdag 34 :Musiek – Kreukels en plooie

Gesels met my ...

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s