Kameel – Die Engeltjiepot (vervolg)

Nadat die meeste stof rondom die engeltjiepot en my as wat die rondte onder die kinders moet doen gaan lê het, is daar wan en dan na die pot verwys, maar dit was heel duidelik nie ‘n onderwerp waaroor die kinders wou praat nie, en dit is sovêr moontlik vermy. Hulle het hulle eie geselsgroepie en ek dink daarop kon hulle na hartelus hulle harte uitpraat.

Intussen het ek vir Ken gesê waar ek my as gestrooi wil hê. Langs die pad oppad Delmas toe was daar ‘n groot uitgedroogte boom. Ek het hom “my boom” gedoop. Soos ‘n groot stuk kunswerk het hy daar gestaan met sy droeë takke wat soos arms hemelwaarts reik. Partykeer het my moed my begewe wanneer ek die veld en die eensaamheid van die omgewing aanskou het. Geen wonder die oumense het familiebegrafplase gehad nie. Die engeltjiepot het op sulke tye na ‘n goeie idee geklink.

Dit was seker so twee jaar later dat Chanté met haar baas se as te doen gelry het, en ek besef het hoe dramaties dit vir hierdie omgee dogter van ons is. Ek het so in die gesels van “my boom” begin praat, en dat ek graag my as eendag daar gestrooi wil hê. Nie een van die kinders het my direk gevra nie (seker bang gewees ek verander van plan.) Die pot en my as is nie weer oor gepraat nie… en toe twee jaar gelede brand die boom dat net ‘n swart monsteragtige gedrog – met twee gebuigde takke wat soos arms lyk wat jou wil gryp – daar staan. Net die gedagte dat my as onder die gedrog moet lê is soos ‘n scene uit ‘n riller.

Ons kerk het groot kerkgronde, en daar is veral een hoekie wat my hart gesteel het. ‘n Klompie Koorsbome is naby mekaar geplant en dit lyk so mooi en rustig, dat ek partykeer wens ek kan net daar gaan sit en ontspan. “Hier kan jy my as kom strooi,” sê ek vir Ken…. “of onder daardie laning koorsbome oppad na Kenneth toe.” Ek vertel vir Marlé omdat ek weet sy sal presies wil weet wat om eendag te doen, en is heel tevrede dat die saak nou afgehandel is. ‘n Paar maande gelede kom sy hier aan… sy wil graag met my praat. Sy begin oor my as praat en vra of ek nie ‘n gunsteling plek in die Kaap of iewers by die see het waar ek graag my as gestrooi wil hê nie. “Dis myle te veel moeite,” sê ek vir haar en verseker haar dat die koorsbome of by die kerk, of langs die pad na Kenneth hulle toe voldoende sal wees.

Vrydag kom die sestienjarige blondekop wat haar nefie soveel jare gelede van my verassing en die engeltjiepot vertel het, hier ingeloop. Dit sal lekker wees om haar daaraan te herhinner dink ek, sy sal dit geniet. “Jes, onthou jy nog ouma se engeltjiepot?” vra ek. “Ja ouma, die een waarin ouma se as eendag moet kom.” Ek kyk haar verstom aan, hulle glo dit sowaar nog!!” Ek vertel haar van die dag om die tafel, en sy lag so lekker en simpatiseer met haar arme nefie wat dit alles moes aanhoor. Toe vra ek dié vraag waarvoor my kinders so teruggedeins het. “Sal jy omgee as jy ‘n beurt kry om die engeltjiepot by jou te hou?” Sy lag en sê “Glad nie, ek sal hom op my bedkassie langs my bed sit, en vir my man sê my ouma het bietjie kom kuier.”

Mooi loop!!

20 gedagtes oor “Kameel – Die Engeltjiepot (vervolg)

  1. Jy en jou asse! En toe verras jou kleindogter jou. Ek het nou die dag ‘n oulike meme gesien, iets in die lyn van: “Almal wat my begrafnis bywoon moet die aand langs my graf oorslaap. Julle los my nie die eerste aand tussen al daai klomp vreemde mense nie!”. Hahaha, ek het gedink dis vrek snaaks.

    Liked by 4 people

    1. Dis jy wat gesê het ek moet hulle vra!!! Toe verras sy my skoon. Dis ‘n familieding hierdie wat gesê word of jy begrawe of veras wil word… en waar soek jy jou as gestrooi. Antoine se as is in die wildtuin gestrooi. Ek dink dis ‘n afsluiting vir almal. Ek het so gevoel om die hemel binne te stap. Vir my vriendin gesê sou lekker wees as ons hand in hand kon saamstap.

      Like

  2. Dis n heelike leesstuk. Ej het vir my dogter gesê sy kan my in die ooptes van berg of see strooi. Toe raak sy hartseer. Intussen is my ouers albei veras en die kissies ingesak in gaatjies op ouma en oupa se dubbelgraf. Daars plek vir my, my boeties en sussie en dalk nog iemand.

    Liked by 1 person

    1. Dankie appeltjie. My ouers en broer is in een graf begrawe. Sou nie omgegee het om daar in ‘n kissie in die grond gesit te word nie. Maar ek het rus gevind in die gedagte dat my as onder ‘n mooi boom lê nie.

      Like

  3. Dis te pragtig. Wys jou ook hoe elke persoon die ernstigheid van die omstandighede sien en ook hoe lief hul tog vir jou ook is. Op die bedkassie is nogal n plek waarvoor ek skrikkerig sou wees. As ek lig wil aansit en my hangly en stamp potjie af. Dekseltjie gaan oop en Kameel sprei haarself uit op die vloer voor die bed. Mens kan dan mos nie uit die bed klim nie want jy gaan op Kameel se assies trap! Skuus, eks nou sommer laf. My wasdag het verby gegaan sonder dat ek tyd gekry het om iets te bedink. Nou het jy sommer opgemaak daarvoor.

    Liked by 2 people

    1. Lag ek nou vir jou Scrapy…. sien my as daar versprei lê 😂😂😂😂 Goeie verbeelding wat jy het. Ek was gevra om ‘n opvolg op die engeltjiepot te skryf. Wou eers kop uittrek maar toe ek sien daar is nie ‘n uitdaging nie besluit ek toe maar om my laksheid te laat staan. Lekker slaap daar in die poskaart!!

      Liked by 1 person

Gesels met my ...