Scrapy se Maandag = Wasdag Uitdaging. Opdrag 31
Neem n foto of n voorwerp wat vir jou waardevol is. Vertel hoekom dit spesiaal is, moontlik wat dit is of, hoe dit in jou besit gekom het of, hoe jy dit raakgeloop het.
Ek plaas ‘n vorige bloginskrywing. Die twee kinders van wie ek hierin praat is vandag twee sestienjarige tieners…. en ek glo hulle opinies oor die engeltjiepot het drasties verander.

Die engeltjiepot het nie familiegeskiedenis nie. Hy is aan my pa deur ‘n persoon wat ook in die aftreeoord gebly het, gegee. Na my ouers se dood het die pot in die Voëlnes staanplek gekry; en ons kinders het my dadelik vertel hoe lelik die pot is. Hiermee gee hulle my toe lang lyn vir ‘n bietjie sports. Nou moet hulle net die hoek byt.
Ek stap groothuis toe. Wetende hoe pligsgetrou Marlè is sê ek baie ernstig, “Daar lê ‘n ding op my hart wat vir my van groot erns is… sal jy my uitluister, en dan vir my sê of jy kans sien daarvoor?” “Natuurlik,” antwoord sy. Ek vertel haar hoe waardevol die pot vir my is, en of sy sal toesien dat my as eendag daarin geplaas word. Sy knik haar kop instemmend, maar my volgende woorde laat haar oë rek. “Verseël dan die pot, en sit hom op jou kaggelrak.” Baie vroom gaan ek voort “Jy het mos gesê jy wil ‘n kaggelrak laat opsit, nie?” Die stryd van die oomblik lê vlak in haar oë. Daar is afgryse aan die gedagte van my “verassingspot” op haar kaggelrak, en haar bereidwilligheid om my te behaag. Haar stem is klein toe sy sê, “As dit is wat mamma wil hê.”
Ek wag; dit gaan soos ‘n veldbrand tussen die klomp versprei. Ons Portugese meisiekind is die eerste wat met die intrapslag in die huis laat hoor; “Wat is dit wat ek hoor dat mamma se as op Marlè se kaggel moet staan?” “Dis reg,” sê ek; “maar net vir drie maande. Daarna kry elke kind ‘n beurt om die pot vir drie maande te hou.” “Wil mamma nou vir drie maande by elke kind gaan bly?“ vra sy verdwaas. “Dis my wens ja” “En wat doen ons daarna met die as?” “Dit kom terug na Marlè toe… dan begin die siklus weer.” Sy staar my oopmond aan. “Verstaan ek reg; die pot moet van die een na die ander aangegee word… vir hoe lank?” “Vir solank julle lewe.” Haar gesig is ‘n belewenis. Was dit nie vir my gawe van toneelspel nie, het ek net daar uitgebars van die lag. Haar Portugese bloed en woorde is warm toe sy praat. “Daar is nie ‘n manier waarop ek daardie pot, of mamma se as in my huis gaan sit nie!!”
So kom kind na kind om te hoor van die nuutste ontwikkelinge in die familie. “Laat hulle sweet,” sê Ken, “hulle het jou in die sak; laat die gety so bietjie teen hulle draai.” Ons laat ons dogter Jay in op die geheim. Sy lag lekker, en stem saam met Ken “Hou hulle vir so lank as moontlik in die duister.” Elke keer wanneer die gesprek pot se kant toe draai, hou ek by my storie.
Gister kry die storie toe ‘n ander draai. Ons graad 2 kleinkinders sit om die ou tafel en huiswerk doen. Die engeltjiepot staan tussen hulle. “Weet jy,” sê die blondekop dogtertjie vir haar nefie; “as ouma doodgaan, gaan hulle haar nie begrawe nie, maar in ‘n vuur sit…. daarna gaan hulle haar in hierdie “blik,” sit.” “Dit is ‘n pot,” help ek reg. Die seuntjie kyk my verbaas aan. “Gaan hulle ouma met ‘n graaf in die vuur gooi?” “Nee,” sê die blondekop, “in ‘n boks, dan maak hulle die oond se deur oop, en stoot die boks daarin.” Vol belangstelling luister ek na die gesprek; nooit eers besef die kind weet van verassing nie. “Die bietjie wat van ouma oorbly, gooi hulle dan in die “blik.” By nou het albei hulle potlode neergelê, so verdiep is hulle in die engeltjiepot en dit wat die toekoms inhou. Ek stik amper van die lag toe die dogtertjie opgewonde sê, “En weet jy wat… al ouma se kinders gaan ‘n beurt kry om die pot by hulle te hou. Dink net hoe lekker gaan dit wees om die pot te kry, en ouma het vir ons kom kuier.”
Mooi loop!!!
Wyse kleindogter, en ek wag vir die opvolgblog. Ek lag nou lekker, Kameel Karnallie.🤣🤣🤣
LikeLiked by 1 person
So lekker as ek nou en dan die klomp ‘n bietjie op hulle plek kan sit. Ek byt gewoonlik die spit af. 😂😂😂😂
LikeLike
Kan nie wag om die uiteinde te hoor nie. Dis klassiek! ‘n Familie legende het jy hier begin.
LikeLiked by 1 person
Hoe lekker het jy my nou laat lag Kameel.Jy kan gerus die kleinkinders se grootmens-mening vra en hoor wat dink hulle nou van die idee.
LikeLiked by 1 person
Goeie idee Hester. Kan net dink dit gaan nie meer daardie kinderlike onskuld wees wat gaan praat nie.
LikeLiked by 1 person
Hoe lief is daardie ou dogtertjie vir jou!
LikeLiked by 1 person
Die kleinkinders wat so om ‘n mens groot geword het, smee mens ‘n baie hegter band mee as dié wat vêr bly. Ek is net so lief vir die blondekop meisiekind.
LikeLiked by 1 person
Kostelike storie Kameel. Ek sal ook graag die opvolg wil lees.
LikeLiked by 1 person
Ek het met tye baie skuldig gevoel oor die liegstorie… maar kon darem my pose hou.
LikeLike
Dit was nou ‘n lekker storie! Daardie klomp wat altyd jou been trek is nou aan die ontvangkant. Ek sou wat wou gee om te weet wat eendag van daardie pot gaan word
LikeLike
Niemand wil hom hê nie so ek dink hy sal na die huishulp toe gaan. 😂😂😂
LikeLiked by 1 person
Ek het nou so lekker gelag vir die storie! Kan nie wag vir die res van die storie nie!
LikeLiked by 1 person
Dankie vir die inloer Aletta. Bly jy het dit geniet!!!
LikeLiked by 1 person
Kameel, jy is omtrent ondeuend! Briljant gedoen, hierdie is een van jou beste stories nog.
LikeLiked by 1 person
Dankie Una. Groot liegstorie… maar dit was baie lekker om die klomp se reaksies te sien… en vir so lank aan ‘n lyn te hou.
LikeLike
Vat so sulke karnallies kry vir hulle!! Haha, vol punte vir jou Kameeltjie. Love dit..
LikeLiked by 1 person
Het lekker myle uit hierdie een gekry Bondels.
LikeLike
Mmmmm dis nodig, hulle go jou gewoonlik. Juis weer tyd dat ek iets uit dink vir my klop😋
LikeLike
Oh no, dis nou n goeie storie dié. Kannie help om te lag nie. Die klomp kinders wat nie eers van die pot hou nie moet wraggies nog ma se as daarin elke paar maande aanstuur. Wonder of hul dit regtig sal doen. Sulke jong kinders kan darem maar skerp wees as hul met sekere dinge te doen kry. My ma se as is, dink ek, nog steeds op Tina se spesiale tafel/rak as ek so reg onthou. Toe ek dit die eerste keer regtig sien was dit ook maar n vreemde belewenis. Ek dink hierdie pot van jou gaan ook koue rillings vir jou kinders gee as dit sou wees. Dankie vir jou lekker storie.
LikeLiked by 1 person
Dit het so twee jaar gehou Scrapy toe help ek hulle maar reg nadat ons Porugese dogter ‘n insident met haar baas se as gehad het wat haar bietjie omvêr gegooi het. Nee wat, my as kan maar iewers onder ‘n koorsboom gestrooi word.
LikeLike
Dis ook goed so. Hoekom n koorsboom? Ek dink nou weer aan my man wat gevra het dat hy veras word en die familie toe n groot begrafnis gehou het en belowe het om n steen op te sit wat nooit gebeur het nie. Ek sou sy as onder sy dooringboom wou gooi wat toe reeds n mooi groot boom was.
LikeLiked by 1 person
By ons kerk staan daar ‘n klompie koorsbome so saam geplant. Die groenerige kleur van stamme en bome skep so ‘n mooi dromerige atmosfeer. Oppad na ons seun toe ry jy ook deur ‘n laning koorsbome en dit gee dieselfde rustige gevoel.
LikeLike
Aha, dit klink na die beste plek dan vir jou. Mooi bly.
LikeLiked by 1 person
Galge humor! Oulike kleinkind wat wil hê haar ouma se as moet kom kuier
LikeLiked by 1 person
Omtrent galgehumor 😂😂😂 Glo as ek haar nou vra sal sy heel anders oor die saak voel.
LikeLiked by 1 person
Ag dis te kosbaar vir woorde….wys jou net hoe onskuldig en sonder voorbehoude klein kindertjies is…kostelik Kameel. Weet hulle darem nou al jy het hulle gesucker?
LikeLiked by 1 person
Ja Woordnoot. So twee jaar later is ons Portugese dogter se baas oorlede en met die drama rondom sy as het ek besef hoe angswekkend dit vir haar is. Het toe maar begin praat van my as wat ek eendag onder my spesiale boom gestrooi wil hê.
LikeLike
Ek het ook met my ma se as besef dat dit eintlik meer stres op die naasbestaandes plaas…daai as wat net daar staan. In my lewende testament het ek gesê dat hulle glad nie my as eers moet gaan haal nie. Dit kan maar gaan waar al die ander heengaan.
LikeLiked by 1 person
Ek het ook al gedink om dit net so te los maar dink nie die kinders sal dit so los nie. Marlé het my nie lank gelede gevra of ek nie my as op ‘n mooier plek bv by see wil laat strooi nie.
LikeLike
😘
LikeLike
En meteens is daai lelike pot jou kind se kind se kind se kosbaarste besitting. En gaan hulle eendag dink, haai, ek het iets van my ma se ma se ma en dit het ‘n lieflike storie daaraan verbonde.
LikeLiked by 1 person
Dit is ‘n mooi gedagte appeltjie.
LikeLike
Terugklingel: Maandag=Wasdag 32: Tande – Kreukels en plooie