Kameel – My baba op die vloer

Op hierdie Moedersdag is ek pootuit. My groot baba het my omtrent heelnag uit die slaap gehou. Gister was daar te veel soetgoed by die groothuis, en meneer – min gepla oor sy suikertelling – het omtrent weggelê daaraan. Sit by die hoë suikertelling skouers en ‘n arm wat hom laat krul van die pyn (genoemde arm is in ‘n “sling) en jy sit met ‘n dilemma. Veral as hy per abuis nog ‘n dubbele dosis insulien spuit, en vra jy moet vir hom sjokolade langs die bank sit waar hy slaap… net vir ingeval sy suiker te laag val. Wetend dat ‘n te lae suikertelling hom in ‘n koma kan sit, maar dat daar van slaap geen sprake is as hy in soveel pyn is nie, wik en weeg jy en besluit dan om ‘n slaappil in sy mond te druk, en met glas water in die hand te sê “sluk!!”

Net voor twaalf klim jy hoogs bekommerd in die bed om tien minute later ‘n hulpkreet te hoor. Jou voete vat skaars grond… jy skakel die lig aan en daar lê jou baba verdwaas op die vloer. “Hoe de swernoot!!” Jy het hom dan so lekker knus laat lê en met ‘n duvet toegevou???? Nee hy weet nie wat gebeur het nie…. maar wie gaan hom ophelp? Jy staan en kopkrap; hy is myle te swaar vir jou om dit te doen, en hy kan glad nie sy arms gebruik om homself op te lig nie. Dan maar bel. Nie skoonseun, Marlé of Ruan antwoord hulle fone nie. “As hy net by die dek trappies kan uitkom,” sê hy. Jy sluit die deur na die dek toe oop en hy begin baie stadig op sy boude vorentoe beweeg. Dit voel na ‘n ewigheid, maar uiteindelik is hy daar en kom met ‘n gesukkel op sy voete. Jy bekyk die bank waarop hy slaap, en prop nog ‘n kussing onder die stapel kussings in sodat hy meer na agter kan sit. Hy sê hy voel eienaardig, asof hy nie kan dink nie. Is dit die suiker of die slaappil wat hier aan die werk is wonder jy terwyl jy hom toemaak.

Jou slaap is min. Jy skrik wakker en stap saggies tot waar hy so half skuins sit-slaap. Gelukkig is dit volmaan en jy kan sien sonder om hom te steur. Jy buk oor hom en luister vir asemhaling. Ja, hy haal asem maar hy is heel duidelik in ‘n diep slaap. Koma of slaappil???? Deur die nag word hierdie patroon herhaal, en uiteindelik breek die dag aan en hy word wakker. Hy het goed geslaap sê hy, maar wonder nogsteeds hoe hy op die vloer beland het.

‘n Uur later se bloedstorie gaan ek nie nou oor praat nie. Net hoe verras ek was toe die groothuis se mense hier opdaag met ontbyt op ‘n skinkbord en sê “Geseënde Moedersdag.” Ek het nie eers geweet dis vandag Moedersdag nie. Al die boodskappe daarna het opgemaak vir die nag met my groot baba. Die video wat Jay vir my gemaak het was ekstra spesiaal. Wat ‘n voorreg en seën om ‘n ma te wees.

Geseënde moedersdag!!!

17 gedagtes oor “Kameel – My baba op die vloer

    1. Dankie Virgo… maar wat ‘n dag. Het gisteroggend met nuwe kapsules begin en daar het ek heeldag so pyn op my maag en is naar. My dogter was so teleurgesteld dat ek nie kan eet nie; sy het spesiaal vir my oxtail gemaak… met sjokoladepoeding daarna. Maar die kinders se boodskappe was great… en ek het lank met ons Engelse seun oor die foon gesels. Ken se seun wat by ons grootgeword het. Het vir my die mooiste goed gesê o.a dat ek werklik ‘n “wow mom” vir hom was en nogsteeds is. Sulke goed gaan sit diep in ‘n mens se menswees. Sterkte daar vir jou en ander wat hard veg teen die virus.

      Liked by 2 people

  1. Ai maar dis n gedoente. Ek haal my hoed af vir jou dat jy steeds volstoom aangaan. Daardie moegheid van geen slaap gaan lank vat voordat dit weer oor is. Baie bly die kinders het jou Sondag gelukkig gemaak. Dit maak op vir baie dinge. Ek dink so baie aan jou veral omdat jy so stilletjies voortgaan met jou versorging. Ek het nie eintlik in my tyd gavra hoekom moet dit met my of so gebeur nie. Noudat jou sien en van jou lees kan ek nie anders as om te wonder- hoekom, hoekom? Wel ou vriendin, ek het baie simpatie met jou. My man was ook onhanteerbaar groot en swaar gewees. Jy moet maar stadig gaan en jouself ook oppas asseblief. Hope liefde vir jou.

    Liked by 1 person

Gesels met my ...

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s