Scrapy se Maandag = Wasdag No 23. Handwerk
Met ‘n ma as naaldwerkster wat die mooiste trourokke gemaak het sou mens dink ek sou vroeg leer om ook naaldwerk te doen. Toe nie, ek was hopeloos. Dit was met my 40ste verjaarsdag wat Ken vir my ‘n naaimasjien van alle dinge persent gegee het. Ek was nie baie beïndruk met die “nuttelose” geskenk nie, maar my ma was in ekstase. Chanté was 2 jaar oud en my ma het my aangemoedig om vir haar net een rokkie te maak. Wel lang storie kort, die gogga het gebyt (al was die rokkie se skouerstukke te wyd) en daarna is almal (behalwe Ken en Shane) se klere gemaak. Uiteindelik het ek klere gehad wat reg pas. Winkelklere en my lang lyf werk nie mooi saam nie. Ek is gaande oor “tailored” klere. Skouerkussings was hoog mode en ek het tot vir my nagklere met skouerkussings gemaak. Sus Rika het gesug “Jy vat dit nou te vêr.” Watwou, dit het so mooi gelyk. Wat ‘n heerlikheid was dit nie om my eie sweetpakke te maak nie. Die vier dogters het ook goed deurgeloop. Dit was frille en valle tyd… en ek het gefril en geval. Kenneth ons kunskind was net te bly oor my naaldwerkmanie. Ek kon vir hom klere maak soos hy daarvan hou. Een Sondag kondig die pastoor van die preekstoel af dat die jeug dié komende Vrydag ‘n “fancy dress” byeenkoms het. Hy voeg toe ewe droogweg by dat Kenneth kan kom net soos hy altyd lyk.
Asof die kleremakery nie genoeg was nie takel ek toe die huis. Dis gordyne met frille, tafeldoeke, lampskerms, spieëls… you name it I did it. Kerspitwerk raak mode, en die uwe kerspit lappe en rokke, lampe en kussings. Ken merk eendag droogweg op dat ek asseblief met die valletjies by sy oorpakke moet stop, hy wil nie gefril en geval by die werk aankom nie.
Breiwerk het êrens in die wintermaande posgevat terwyl ek en Marlé Wimbledon gekyk het. Eers was dit net regs en aweregs… maar later was dit kabels en sulke bolletjies. Ek mis nogsteeds my handgebreide truie. Winkeltruie is net nie dieselfde nie.
Chanté se matriekafskeidrok was my laaste naaldwerkprojek. Ons het net stad toe getrek, ek het nie meer ‘n naaldwerkkamer gehad nie, en die Voëlnes was te klein vir sulke bedrywigheid. Dus het dit by Chanté begin en ook by haar geëindig. Sestien jaar waarin ek myself totaal uitgeleef het.
Daarna het scrapbooking aan die beurt gekom. Ek het my met net soveel ywer daarin gewerp. Skoonseun het vir my ‘n lessenaar in die groothuis se kantoor gegee…. en ek het my dae daar deurgebring. Ek het genoeg kleinkinders gehad waarvoor ek albums kon maak. Tussen my studio, fotografie, en scrapbooking was ek baie besig. Hartseer gewees toe ek dit alles moes laat gaan, maar diep dankbaar ek kon dit doen.
Mooi loop!!!
So volg ek jou stap vir stap. Al dieselfde dinge gedoen, ek het net verder gegaan en ons een huis van hoek tot kant ge-Biggie Best, muurpapier, als.
LikeLiked by 1 person
😂😂😂😂 Ag en ons het gedink dit was so mooi. Maar daardie tyd was dit net te pragtig en tog so oordoen. Wonder of so ‘n mode ooit weer sal vlamvat?
LikeLike
Nee man, ek het nou skoon miltsteek van al die werk wat jy gedoen het. Maar ek gee jou die applous wat jou toekom, hoor?
LikeLiked by 1 person
Ag Hester jammer oor die miltsteek. Geen applous nodig nie… ek het dit vreeslik geniet. Sê nou net ek het gehaat om dit te doen maar omstandighede het my daartoe gedwing. What a misirable creature I would have been. 🤔
LikeLiked by 1 person
Dis nou die waarheid, Kameel.
LikeLiked by 1 person
Ag, hoe het ek nou hierdie geniet.
LikeLiked by 1 person
Dankie. Aan jou gedink toe ek oor breiwerk skryf. 😊
LikeLiked by 1 person
Ekgaan sommer nou skryf.
LikeLiked by 1 person
Ek bewonder jou, ek kan niks van daai goed behoorlik doen nie, my oë kry die skuld, maar die waarheid is dat ek glad nie daarvan hou nie. Elke keer as my ma kom kuier, moet some ingewerk, knope aangewerk en allerhande goeters gemaak word. My arme ma
LikeLiked by 1 person
Ek het presies so gevoel en gedoen totdat die gogga gebyt het. Kon glad nie ‘n soom inwerk nie. Ook alles na my ma toe gedra. Ken het die masjien gekoop met die hoop dat ek darem net broeke se nate wat lostrek sou kon vaswerk. Sou seker nooit geleer en so geniet het was dit nie vir daardie geskenk nie.
LikeLike
Haaita, jy’s ie van hier nie maar van doer anderkant. Dink net hoe lekker sou ons saam n winkel kon oopmaak met al ons handewerk. Ek het tot geleer om my eie onderklere te maak wat my nommer pas. Toe steel die bl….y huisskoonmaker dit eendag. Nou nog vies vir haar as ek weer daaraan dink. Het ook windbrekers gemaak. My eerste een hang steeds in die kas. Te jammer om hom weg te doen. Laaste wat ek in SA gemaak het om te verkoop was onderbaadjies wat ek borduur het spesifiek ook met kerspit. Eks so bly jy het die geleentheid gehad om hieroor te skryf en dat jy dit kon doen om jouself uit te leef toentertyd. Sorry vir die hele opstel maar dis so n lekker onderwerp.
LikeLiked by 1 person
Ek het skoon vergeet om te sê dat ek tot skoenoortreksels gemaak het wat by uitrusting pas. Ek lag as ek daaraan dink… kerspit skoene. Het nogal al die pad Johannesburg toe gery om klas te loop. Oh my goodness wat te erg is is te erg. Soos daardie massiewe oorbelle wat ons gedra het… en massiewe bril. Nou sien ek die groot brille is terug. Nee dankie… ek kyk na my fotos van daardie jare en jy sien net oorbelle en bril.
LikeLike
Haha, Ek het al my jare se fotos op een bladsy geplak en kan beslis sien hoe die brille vergroot het en weer verklein het. Ja daardie oorbelle! Lekker terug dink hierdie!
LikeLiked by 1 person
Terugklingel: Handwerk – toortsie.com
Terugklingel: Maandag=Wasdag no 24: Sport/s – Kreukels en plooie