Kameel – Omgewing en sy mense

20191210_145119-1-1

Die foto het ek uit die resepteboek wat ek vir my kinders gemaak het geneem. Gee ‘n idee van die park. Ons huis was bietjie hoër op aan regterkant. 

Scrapy se Maandag = Wasdag Uitdaging. Jou Omgewing. Dit sluit die mense in, en net hier raak dit ‘n tameletjie want in die stad is dit elke man vir homself.

Eerstens is Dinsdae my wasdag, en met die heerlike reën wat nou al amper ‘n week “non stop” val, is net die nodigste “goedjies” vanoggend gewas, en oor die banke en tafels gedrapeer. Ons kan dit doen want daar gaan definitief nie ‘n buurvrou, of man vinnig oorkom vir ‘n geselsie of om iets te leen nie. Die stad is ‘n baie koue plek.

Tussen die mielielande was dit ‘n heel ander storie. Ek het vele oggende in my japon sit en kuier met ‘n onverwagse kuiergas wat net vinnig iets wou kom vra, en toe raak dit ‘n volskaalse kuier.

Ons het skuins oorkant ‘n park gebly. Die straat en park was die kinders se speelplek. Daar is tennis gespeel, gerolskaats, fiets gery, resies gehardloop ens. Dit was ook die vergaderplek vir die straat se jeug. Meisies en seuns het daar krieket gespeel Tot laat in die aand kon jy hulle hoor lag. Ken het altyd gesê dis vir hom een van die mooiste geluide. Dit was lekker om te weet drie van jou tieners is daar, en dat jy jou nie oor hulle hoef te bekommer nie.

Ons het ons kwota van bure gehad. Met veral een paartjie het ons goed bevriend geraak. Ken het die man vir maande Johan genoem tot sy vrou eendag vra hoekom noem hy hom Johan. Daar hoor ons toe sy naam is Willem. Later vertel hy ewe droogweg hy het aangeneem Ken hou nie van die naam Willem nie, en daarom dié naam Johan. Sy droë sin vir humor het ons vele male laat skaterlag.

Daar was ook hartseer. Ek het goed bevriend geraak met Joanne, ‘n mooi swartkopvrou oorkant die straat. Haar man was egter ‘n stil eenkant mens. Hulle twee dogtertjies, en ons drie kleiner dogters was groot maatjies. Een Maandagaand terwyl ons by ‘n vriendin gaan bid het bel Kenneth in ‘n toestand. Ons moet kom, tannie Joanne hardloop in die straat op en af op soek na my. By die huis moet ek hoor Joanne se man het homself deur die kop geskiet. Ek en Ken het haar gaan haal by mense wat haar ingeneem en probeer kalmeer het. Ons het haar na ons huis toe geneem, en die dokter laat kom. Die inspuiting het haar kalmeer, maar het nie verhoed dat sy deur die nag probeer opstaan en dan op die vloer inmekaar gesak het nie. Ek en Ken moes ons storie ken. Het julle ‘n idee hoe swaar is ‘n mens wat soos ‘n slap pop lê?

Dan is daar natuurlik die buurvrou met die senuweeprobleem wat eers gekla het ons mak haan kraai haar in die nag wakker, en om die vrede te bewaar het ons hom weggegee. Maande later staan sy toe met ‘n oliekannetjie voor ons voordeur en sê sy wil die kinders se swaai olie gee, die geluid maak haar gek. Ek het haar gewys waar die swaai is, en haar maar laat begaan.

Nog iemand wat ek vreeslik geniet het was Sheila. Sy was een bondel energie en het net drie maande ‘n jaar by haar man en seun kom kuier. Hulle het skuins oorkant ons gebly. Pa en seun was albei ingenieurs op kontrak van Engeland af. Toe hulle, en hulle kinders jonger was het sy gebly waar Paul ookal gewerk het. Dus het sy groot dele van die wêreld gesien. Later het sy met die kinders in Engeland agtergebly. Ons het pa en seun redelik goed geken. Martin die seun was vir Sheila een groot kopseer omdat hy so kalm en bedaard was. “He will never get a wife I’m telling you, what woman wants to be married to a corpse.?” Ek kon net lag want Pa en seun was uit een stuk lap gesny. Ek weer het gedink die vrou wat Martin kry, kry ‘n juweel. Sy moes net lief wees vir stap, veral die Visrivier canyon. Sou glad nie omgegee het as Marlé ouer was en Martin het haar raakgesien nie.

Agtien jaar se lewe lê opgesluit in daardie huis, straat en sy mense. Te veel om alles hier te noem. Ek is dankbaar dat ek ons ses kinders in daardie veilige, en vry omgewing kon grootmaak. En om alles te kroon was daar die sonsondergange!! Nog nooit weer het ek die son sien ondergaan soos daar nie.

Mooi loop!!

 

13 gedagtes oor “Kameel – Omgewing en sy mense

  1. Dankie, dankie en nog n dankie. Bly jy het lekker kon uitlê van die omgewing wat jy onthou. Dis so lekker om te onthou. Ek kan self ook boekdele skryf oor al die mense wat al in my omgewing gebly het. Tot selfs vandag is dit steeds vir my lekker om so oor en weer te beweeg en te kuier.

    Liked by 1 person

    1. Daardie oor en weer gekuier het hier in die stad tot ‘n einde gekom. Dis jammer want vanaf my kinderjare onthou ek die ooms en tannies in die straat… en dat jy op jou naam gegroet was. Ons het hulle al hulle dae gegee met ons toktokkie spelery en klippe op die sinkdakke gooi in die aande. Wonder nou hoekom kinders in die aande soveel lewe gekry, en onder die straatligte gespeel het. Daar was geen bekommernis oor jou kinders in die strate nie. Lekker slaap daar in jou poskaart. Gelukkig het nie jy of ons verspoel nie. Vanoggend skyn die son na ‘n week se gesous. Groot seën maar die verspoelings wat daarmee saamgaan is tragies.

      Like

      1. Daardie saamspeel en fietsry namidae of na ete was te heerlik. Almal het saam gespeel. Vandag is kinders gedurig besig om mekaar te verpes met moedswillige dinge. Ja daardie verspoelings is erg. Tog gebeur dit elke keer weer omdat daar te veel mense is. Hier het die verspoelings veroorsaak dat koeie nie gemelk kan word nie omdat hul afgesny is van die stalle. Dis vir my ook erg om diere so te verniel. Eks bly dit het darem nou gereen om bietjie verligting te gee. Jy moet n heerlike sonnige dag hê.

        Liked by 1 person

Gesels met my ...

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s