Kameel – Loop

woman-792818_1280

Stel jou voor jy sê vir iemand “loop bars,” en die persoon doen jou die guns en bars voor jou oë soos ‘n ballon!!! Dit sal baie erger wees as die dag toe die sop van ons kombuisdak afgedrup het a.g.v ‘n moedswillige stoompot. Dit is nie waaroor ek wil skryf nie…. maar die woorde “loop bars” het by my opgekom toe ek die opskrif van Scrapy se nuutste Maandag = Wasdag  LOOP opdrag gesien het. (Dit was nie op jou van toepassing nie Scrapy 😊)

Vandag se dae gaan loop of draf mense om fiks te word. In my kinder en jongdae was dit nie nodig nie want waar jy ookal wou wees het jou voete jou gedra. Busdienste was goed, maar jy moes busstop toe loop, en dan weer tot by jou bestemming loop. So het ek elke oggend en weer smiddae op my hoëhakskoene van Joubertpark tot in Johannesburg se middestad geloop om ‘n bus te haal. Daar was ook nie winkelsentrums nie, jy het Johannesburg platgeloop om alles gedoen te kry…. ook op jou hoëhakskoene. Loop was so natuurlik soos eet.

So loop ek en my vriendin een Sondagmiddag straat af. Ons het nie definitiewe planne nie – geniet net mekaar se geselskap. Randburg was nie so toegebou soos nou nie. Êrens klim ons deur ‘n draad en loop veld in. Vir ‘n paar uur is dit net ek en sy en die veld. Nee, ek weet nie of die veld vrolik was, en of die voëltjies gesing het nie. Wanneer jy tiener is, is ander dinge belangriker. Toe ons uiteindelik die tyd besef en begin rondkyk om terug te draai, weet ons nie waar ons is nie. Ek voel nou nog die benoudheid van daardie oomblik. Met die hoop dat ons êrens by beskawing sal uitkom loop ons ‘n rigting in – die lag en gesels van vroeër nou skoon vergete. Net voordat die son sak sien ons ‘n huis agter groot bome verskuil lê. Wat ‘n verlate prentjie – maar ons loop in en gaan klop aan die voordeur. Tot ons groot verligting maak ‘n oom die deur oop. Dit is duidelik dat hy ons nie daar verwag het nie, en nog groter was sy verbasing toe ons vertel ons het verdwaal en op sy vraag sê waar ons bly. “Weet julle hoe vêr julle van die huis af is!!” raas hy met ons. By nou het die tannie bygekom en sy wil weet of ons ouers weet waar loop hulle meisiekinders rond. Die oom gaan haal sy motorsleutels en dis maar ‘n bek-af spulletjie wat terugry Randburg toe. Hy vra my adres en ek gee hom ‘n straatnaam ‘n blok van ons huis af. Al wat nog gekort het was dat my pa hiervan te hore moes kom. Die gort sou dan behoorlik gaar gewees het. Met ‘n laaste berispering laai die oom ons af, en ons belowe hom dat ons nie sommer weer veld in sal loop nie. Ons het ook nie – die skrik was te  groot om weer so iets te waag.

Mooi loop!!

26 gedagtes oor “Kameel – Loop

  1. Mooi loop – dis nou weer goed om dit te hoor! Ai daardie tyd kon mens nog regtig loop en weer veilig tuis kom. Vandag kan jy ook nie eers in n vreemde se motor klim nie al bedoel hy miskien goed. Jy het n heerlike loop-storie vertel. Dankie dat jy my so ondersteun. Mooi loop vandag in jou beknopte omgewing.

    Liked by 1 person

    1. Met my dronk kop het loop ‘n luukse geword. Vir Here gesê my liggaam voel soos ‘n tronk. Maar kon ek loop en sit vasgekeer agter hoë mure vir veiligheid was ek seker net so frusteerd. Lekker slaap in jou poskaart. ❤

      Like

    1. Raas jy met my Unatjie? Ja, ek besef nou dat ek wys is hoe onverantwoordelik ons was. Ek sê baie keer vir die Here dankie dat hy my deur baie onverantwoordelike en woeste jare beskerm het. ❤

      Like

      1. Miskien is jy presies wat ek nodig gehad het “to reign me in.” So groot vriendinne soos ek en Deslyn tot met haar dood op 49 jarige ouderdom was moet ek erken sy het ‘n baie slegte invloed op my gehad in ons tienerjare. Maar dan weer het ek haar aan haar man voorgestel… so dit moes seker maar gewees het.

        Liked by 1 person

  2. Lekker loop ek sommer so saam met jou en voel daai bang ook. Vandag sal mens nie meer so kan maak nie.
    Voor Una net vir jou groot oë maak – Die ding wat my humeur afkoel is loop, so ek het al baie kere op die onbehebelikste tye die pad gevat

    Liked by 1 person

    1. “Vat die pad en loop” laat jy reg aan geskiet die dag as jou humeur hoog vlam. Om dit af te loop is miskien die beste manier. Party mense begin die huis reg pluk. Die dag as Marlé die besem vat in die groothuis weet almal nou moet hulle versigtig trap. Gelukkig het julle nou ‘n plot waar jy kan loop 😊

      Liked by 1 person

  3. Terugklingel: Maandag=Wasdag: no 17 Omgewing: Mense – Kreukels en plooie

Gesels met my ...