Kameel – Maak vrede

Hierdie gaan baie moeilik wees om oor te skryf, maar net miskien kan ek die gemors uit my sisteem uitskryf en rus vir my siel kry.

Timothy met sy Griekse pa is my oudste seun, en die een wie ek die meeste al in my lewe oor gehuil het. Ek het hom diep, diep lief hierdie seun van my wat soveel chaos in my lewe veroorsaak het. Dit was my voorreg om hom te baar, en tot op vyfjarige ouderdom groot te maak. Met ons egskeiding het my eerste man met my drie kinders gevlug, en ek het Timothy eers weer op sewentienjarige ouderdom gesien…. en ‘n verhouding met hom probeer opbou. Vandag is hy ‘n welgestelde man, getroud met ‘n Engelse vrou met drie Engelse kinders. Hulle bly nie vêr van ons af nie, en ek en Ken gaan kuier af en toe daar. Hulle leefwyse is anders as waaraan ons gewoond is. Hulle vriendekring bestaan uit alle rasse en kleure… maar dis nie dit wat my pla nie. Ken kry veral swaar in die mansgeselskap want daar word rowwe grappe vertel, en die taalgebruik laat veel te wense oor. Ek weer kry swaar wanneer my 21 jarige kleinseun met sy geskeurde denims en tattoeërmerke, tussen ons sit en “vape” dat die walms die son verflou. Nou goed ek vergroot… maar dit lyk vir my so.  Hulle is almal pragtige, gasvrye mense…. maar die kinders is definitief anderste grootgemaak. My kleinkinders noem my op my naam. Nie dat ek omgee nie; in Ken se Engelse familie het ek gewoond geraak daaraan dat klein en groot jou op jou naam noem.

Marlé se pa (my eerste man) was Afrikaans. Ek het Marlé eers op vyfjarige ouderdom leer ken toe my eks my eendag uit die bloute bel en sê hy gaan haar by my ousus aflaai, ek moet haar vat. Sy het by my en Ken grootgeword. ‘n Slim voorbeeldige dogter wat goed presteer het. Sy beklee ‘n hoë pos, het hoë standaarde en vaste beginsels, en kies haar vriende baie noukeurig. Sy is nie ‘n mense mens nie, maar haar en skoonseun se huis is die familie se vergaderplek. Hulle het bv vir Jay en haar twee klein kinders vir 5 jaar blyplek gegee, totdat sy weer op haar voete kon kom. Daar is so ‘n gekom en gaan in hulle huis dat ons dit TimLani Lodge gedoop het. Lekker kuier met vriende, en familie is daar gereeld, maar daar word geen krutaal gebruik nie, en die geselskap is skoon. Soos skoonseun altyd vir sy twee seuns sê “Wys my jou vriende en ek wys jou waar is jy oor ‘n paar jaar.” Die familie is Afrikaans, net skoonseun praat Engels met Ken.

Dit alles gesê kom ek by my wroeging uit. Marlé skryf mense baie maklik af. Toe sy en haar broers in hulle tienerjare herenig is, het dit vir ‘n paar jaar goed gegaan. Tot op ‘n dag toe sy besluit het sy is klaar met Timothy en sy vrou. Jare het verloop, en toe kom kuier Timothy op ‘n dag vir my in die Voëlnes. Marlé was swanger met haar tweede baba. Ek het Timothy groothuis toe gevat om haar te gaan groet; dit was ‘n yskoue ontmoeting wat hom ingewag het. Terug by die Voëlnes het hy sy motorsleutels gevat en met die woorde dat hy nie dit in sy lewe nodig het nie, gegroet en gery. Dit was sestien jaar terug. In al hierdie jare voel ek in twee geskeur oor hierdie twee kinders van my. My smeking is dat rekonsiliasie sal plaasvind. Timothy het geen kwade gevoelens teenoor Marlé nie, maar hy kom nie meer hier nie.

Nou kom die groot vraag. Sou dit wat ek so graag wil hê realiseer, hoe gaan die twee families saamkuier? Hulle lewenswyses verskil so, dat ek net kan dink wat skoonseun gaan sê as ons Engelse kleinseun voor sy seuns “vape,” en onvanpaste taal gebruik. Moet ek dinge maar net hulle gang laat gaan, en nie slapende honde wakker maak nie? Maar hoe maak ek met hierdie hart van my wat bly sê “Vrede op aarde?”

Mooi loop!!

 

27 gedagtes oor “Kameel – Maak vrede

  1. Kameel, ek dink jy moet dinge net so los. Daar is so ‘n duidelike verskil tussen die twee families, dat dit nie vir my lyk asof dit versoenbaar is nie. Solank jy by beide kuier en ‘n verhouding het, behoort dit genoeg te wees. Elkeen het hul eie gesin en eie lewens.

    Liked by 1 person

    1. Diep binne besef ek dat dit nie gaan werk nie Perdebytjie. As my hart net wil berus daarby. ‘n Paar Saterdae terug het Timothy vir die eerste keer weer hierheen gery om my op te laai vir ‘n uiteet ontbyt. Marlé het besoekers verwag en buite toe geloop. Sy was twee treë van die kar af toe sy besef dis iemand anders toe sy my sien. “Dis Timothy Marlé, kom groet hom,” sê ek vir haar. Sy het net in haar spore omgedraai en terug huistoe gestap. My hart wou breek.

      Liked by 1 person

  2. Die afgelope ses jaar wat ek onder Laatlam se dak bly, het my ‘n harde les geleer, naamlik dat my standaarde en wense nie noodwendig ooreenstem met my kinders s’n nie. Ook dat my invloed maar bitter klein is… ‘Bytjie se raad is goeie raad!

    Liked by 2 people

    1. Dankie Frannie. Haar raad maak definitief sin. Kon ons maar net die lewe regdokter. Ek en Timothy het juis gaan uiteet met die uitsluitlike doel dat ek met hom oor sy siel kan praat. Hy het nie by my grootgeword dat ek hom kon leer nie. Tot daar kon ek sien hy snap nie. My hande voel so gebind…. as ek net kan laat gaan.

      Liked by 1 person

  3. Liefste Kameeltjie, dis bitter seer dinge waarvan jy praat. Dankie dat jy jou hart vir ons oop maak om te sien. As ma kan jy net terug staan en bid en vertrou, niks anders. Die goeie nuus is dat niks by God onmoontlik is nie. Niks. Ek vertrou en bid saam vir jou wonderwerk. Mens kan God vertrou!!!

    Liked by 2 people

    1. Dankie Bondels. Ek besef hoe magteloos ek eintlik staan en dat net die Here hier kan werk. Ek is so vreeslik lief vir daai seun van my en sy verlore toestand maak my diep bewoë. Wil graag vrede tussen die twee sien, vir albei se innerlike genesing.

      Like

    1. Dis jammer Hester. Ek besef dis die harde werklikheid van die lewe…. maar ai, mens bly hoop. As ek net myself daarby kan berus. Dit gaan ‘n tydjie beter, en dan begin dit weer aan my knaag. Lekker slaap!!!

      Liked by 1 person

  4. Kameel, my Ouma se woorde gee ek aan jou: Laat los en laat gaan, laat die Heer tor om oor elke lewe te besluit. Dis nie ons werk nie. As jy in liefde onvoorwaardelik met elke mens in jou lewe leef is dit wat tel. Ons werk is nie om almal lief vir mekaar te maak nie. Ons is as ouers net die boog wat die Boogskutter gebruik om die pyle uit Sy koker te skiet. Hy bepaal elkeen se mikpunt. Liefdegroete.

    Liked by 4 people

  5. woordnoot

    Ek deel jou smart…in my geval is dit my kinders en sy kinders…ek het vir jare probeer om die twee groepe bymkeaar te bring, maar dit was vrugteloos. Met die gevolg dat daar glad geen familie kuiers by my huis plaasvind nie. Ek nooi nooit meer net eeers sy kinders uit nie, ek reel altyd dat wat ookal gehou moet owrd, dit by een van sy kinders se huise is. Die twee groepe was laas in 2014 saam…..maar dis nie gesond nie. Ek voel jou seer. Ek wens ek kon jou met woorde die regte oplossing bied….Maar ja…let go and let God have His wonderful way….

    Liked by 1 person

      1. Dis waar. Ek sit ook maar met amper tien jaar van hoop en tog bid dat daar “verbetering” kom in my verhouding met skoonlief. Wil net nie werk nie en kap my telkens as daar so koud teenoor my opgetree word. Verdien mens dit regtig om so te moet voel? Serkte met jou worsteling.

        Liked by 1 person

  6. Terugklingel: ñ Inhoudsopgawe. – Una se gedagtes

Gesels met my ...