Kameel – Andries

Terugflits

Ek het voorheen hierdie geplaas maar vanaand is my hart bewoë oor soveel dinge van dit wat was, en Andries is een van hulle.

1983 -0119Hy het liggies aan ons lewens kom raak, en toe weer weggevlieg.  Andries, met sy ondervoede liggaampie en bruin oë wat te groot was vir sy maer gesiggie.  Terwyl die welsyn ‘n saak van mishandeling teen die sestienmaande ou seuntjie ondersoek het, is hy en sy vierjarige sussie René by ons in veiligheid geplaas.

Ken is by toe ek sy doek afhaal om hom droog te maak.  Ons trek ons asem diep in toe ons die maer liggaampie met die blou are daaroor sien.  Breekbaar broos lê hy daar.  Vir ‘n paar sekondes huiwer ek om aan hom te vat, bang hy breek onder my aanraking.  Volgens die welsynwerkster was hy in sy kort lewetjie al twee keer in die hospitaal; eers vir ‘n gebreekte arm, en toe ‘n gebreekte been.  Die vermoede is dat dit sy ma is wat hom so verniel.  Dan lig ek sy beentjies op, en trek die doek onder hom uit.  Daar lê werk vir ons voor met die klein mensie.  Voor haar vertrek het die welsynwerkster gevra ek moet asseblief probeer om hom op vaste kos te sit.  Sy maag is so swak dat alle pogings tot dusvêr misluk het.

Ons is net oor die eerste skok toe die tweede ons soos ‘n orkaan tref.  Dit kom uit die mond van die vierjarige René.  Stringe vloekwoorde – wat ‘n matroos groen van jaloesie sou laat – borrel uit haar mond.  Ons staar haar sprakeloos aan.  Toe die ergste skok verby is, vermaan ons haar; “Nie in dié huis nie, Renè.  Hier praat ons nie so lelik nie.”  ‘n Vermaning wat telkemale in die dae wat kom herhaal moes word.

Aan die begin is ek net jammer vir Andries.  Wanneer hy ongelukkig is druk hy albei handjies met hulle rugkant voor sy oë; vou sy lyfie soos ‘n lappop inmekaar; en begin dan saggies ween.  Dit is so ‘n patetiese figuurtjie dat my hart wil breek.  Die tyd stap aan, en daar begin ‘n band tussen my en hom vorm.  Dag na dag word ons stywer aan mekaar verbind.  Toe ek seker is hy vertrou my, begin ek met die groot taak om hom te leer eet. Aan die begin gaan dit moeilik, maar my beker loop oor toe hy eers een lepeltjie, en toe nog een, en later ‘n bakkie pap inhou.  Groente volg dieselfde pad, en kort voor lank, kan ek met oortuiging sê, “Andries eet!”

Sy ouers kom die twee kinders besoek.  Ek hou dadelik van die donker stil man, maar ‘n minuut in die ma se geselskap vertel my waar René haar taalgebruik vandaan kry.  Ons kinders staan grootoog na die swetsende vrou en luister.  Ek stuur hulle uit, en verdra vir die volgende halfuur die geselskap van ‘n vrou wat al vloekende onophoudelik praat.  Na hulle vertrek bel ek die welsynswerkster, en sy belowe om met haar oor haar taalgebruik te praat.  Die volgende besoek gaan veel beter.  Die oupa en ouma – twee pragtige mense – is ook by, en ek geniet die twee ouer mense se geselskap. Hulle dogter bly egter vir my ‘n raaisel.

René is die eerste wat huistoe gaan.  Andries bly aan totdat hy sterker is.  Elke dag saam met hom is ‘n geskenk, ‘n stukkie genade uit God se hand.  Toe kom die oproep van die welsynswerkster af, “Ek kom hom vanmiddag 2 uur haal.”   Ek sluk swaar aan die knop in my keel.  Kon ek maar die bruinoogkind wegsteek waar ek seker is hy veilig sal wees, maar ek weet ek moet my hande oopmaak en hom laat gaan.

‘n Halfuur voor die verwagte tyd tel ek Andries op en stap met hom agterplaas toe.  Ek gaan sit op die gras, leun my rug teen die pophuis, en trek hom teen my bors vas.  Met sy kop op my bors lê hy en luister na my stem.  “Jy verstaan nie Andries, maar jy moet teruggaan na jou huis toe.  Ek het so lief vir jou geraak, maar ek mag jou nie hou nie……”  Dan kom die trane; ek probeer hulle nie keer nie, maar laat die seer van my hart skaamteloos oor my wange rol, en in Andries se hare drup.

Toe ek die motor hoor staan ek op, en gaan haal sy tassie.  Ek stap met hom tot by die voorhekkie.  Hy huil toe die welsynswerkster hom by my vat, en beur met uitgestrekte armpies terug na my toe.  Ek staal myself.  Toe die motor wegtrek hoor ek hom nog huil.  Met ‘n groot leemte in my hart draai ek om en stap terug huistoe.

Mooi loop!!

53 gedagtes oor “Kameel – Andries

  1. 💗🎉 Dankie tog vir spesiale mense wat omsien na hulpelose kindertjies. Dis ‘n moeilike taak, want ek dink ‘n stukkie van jou gaan altyd weg saam met so ‘n kleintjie wanneer hulle huis toe gaan. En om nie te weet hoe die res van hulle lewetjies afspeel nie – dit moet baie moeilik wees. Dankie Kameel, jy is spesiaal.

    Liked by 2 people

    1. Ek het nooit daarvoor gevra nie Hester… dit was asof ek geroep was daarvoor. Jare later het die welsynwerker my laat weet dat Andries se pa homself en sy dink vir Andries doodgeskiet het. Andries sou dan so twaalf gewees het. Blykbaar het hulle weer ‘n seuntjie gehad… en sy was nie seker of dit Andries of dié kind is wat hy geskiet het nie. Dis ‘n baie hartseer wêreld die pleegsorg wêreld…. mens sien en hoor dinge wat jy nie van wil weet nie.

      Liked by 2 people

    1. Christa soos ek vir Hester gesê het is hy op twaalfjarige ouderdom deur sy pa doodgeskiet… en toe het die pa homself ook geskiet. Die welsynwerkster konnie met sekerheid sê of dit Andries of ‘n latere boetie was wat geskiet is nie. Welsynstories is baie hartseer!!!

      Like

      1. Baie goed Christa. Ek het te veel seerkry kinders gesien en mee gewerk. Iemand het my eendag berispe omdat ek myself nie beskerm nie en alles met my hart doen. Baie, baie trane oor die kinders gehuil. Gelukkig raak die pyn met tyd ligter.

        Liked by 1 person

      1. Ja, ek het. Dis juis wat my laat wonder het. Duidelik het daardie ouers van die begin af drooggemaak met hul kinders. Dus hoekom hulle terugplaas in daardie situasie? Ek laat my nie vertel dat die ouers se gedrag sou verander nie

        Liked by 1 person

      2. Daar was blykbaar geen probleem met die dogtertjie nie. Dit was Andries wat hulle ondersoek het. My gevolgtrekking was dat die ma ‘n senuwee probleem het…. en nie die huilende en ondervoede baba kon hanteer nie. Die ouma was hoogs verbaas dat hy begin eet het… gesê hy huil van geboorte af aanmekaar en bring al sy melk op. Ek dink by ons het hy kalm geraak en sy magie het gesettle. Hier skiet my oë nou vol trane. Die pa het vir my na ‘n baie ordentlike man gelyk. Dink daardie vrou het hom tot die daad gedryf…. en seker gedink die seuntjie is beter af dood. Liewe nou breek my hart sommer.

        Liked by 1 person

  2. woordnoot

    Liewe Kameel…..dis eina. Daar was op ‘n stadium ook twee dogtertjies wat by ons gebly het. Ons het amper soos sussies geword toe is hulle weer weggevat. Ek vertsaan daai seer. Ons het in Des ook die mense ontmoet wat daardie kinders wat deur hulle oupa en ma hulle in die pedofielsaak betrek was, in hulle sorg gekry het. Dit is meer as hartsverskeurend om als te hoor. Sulke tye is ek bly my magte is beperk, want die hemel weet…..daar sou baie “ouers” verdwyn het as ek iets daaraan kon doen….

    Liked by 1 person

    1. Una dit was die laaste ding wat ek ooit gedink het ek sal wil doen. Dit was uit gehoorsaamheid aan God gedoen… en Hy gee dan ook die krag. Uit myself was ek te swak. Hy vra partymaal dat ons baie seer paaie stap.

      Like

  3. Ek sou dit ook nie kon doen nie, daar moet engele wees soos jy Kameel.
    Aan die positiewe kant- ek is seker hy het vir jare nog die voordeel van jou goeie sorg gepluk en sekerlik het julle huishouding ‘n indruk op die dogtertjie ook gemaak.

    Liked by 1 person

    1. Scrapy as jy my gevra het wat ek met my lewe wil doen was dié kinderwerk die laaste ding waaraan ek ooit sou gedink het. Ek wonder partymaal hoekom God my die pad laat stap het…. dit nadat ek my eie twee seuns “verloor” het. Ek konnie my eie seuns grootmaak nie maar ander se kinders is onder my sorg geplaas… en ja, die Here het my elke keer groot liefde vir die kinders gegee. Hier huil ek nou snot en trane…. die seer van my twee seuns sal seker nooit weggaan nie. Miskien verstaan ek eendag, maar op hierdie aarde bly dit vir my ‘n raaisel.

      Like

      1. Ai dit is so hartseer van jou twee seuns. My een vriendin het ook twee seuns wat net nie n verhouding met hul ouers het nie. Dit raak steeds baie aan my vriendin. Gelukkig praat sy darem met my daaroor. In die begin het sy beide weggestoot maar nou is sy meer toegeneë teenoor beide. Mens kan ook maar nie alles verstaan nie. Vir jou is dit nou n bewys dat jy wel daardie innige liefde kan hê.

        Liked by 1 person

  4. Ek is so dankbaar daar is mense soos jy in die lewe, ek sou dit nooit ooit kon regkry nie, ek is nie sterk genoeg vir dit nie. Ek is seker mense soos jy gaan eendag sommer ses stelle vlerke kry, gratis en verniet. Dis so hartseer storie, ek weet nie hoe herstel mens ooit na so iets nie?

    Wat ek egter nie kan verstaan is hoe sulke kinders teruggestuur word na hulle huise toe nie?

    Liked by 1 person

    1. Dit was baie moeilik. Weet nie of jy kommentare gelees het nie… maar sy pa het Andries en homself doodgeskiet toe Andries so twaalf jaar oud was. Welsynwerkster konnie met sekerheid sê dis Andries of latere boetie nie… maar sy reken dit was Andries.

      Like

Gesels met my ...

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s