Kameel – Gesondheid

Scrapy se Maandag = Wasdag no 13 Gesondheid

Screenshot_2019-10-14-15-17-55-1

Die liefdesverhaal van my ousus se jongste dogter en haar skoonseun het sprokiesagtig mooi begin, en mens wens amper dit was ‘n Mills en Boon storie sodat jy kon byvoeg “and they lived happily ever after.”

Sy was ‘n pragtige blondekop onderwyseres, hy ‘n baie aantreklike jongman wat haar gesien, en sy hart op haar verloor het. Hy het vir haar ‘n bos rooi rose by die skool laat aflewer en so het hulle verhouding begin. Sy het prinsesmooi gelyk In haar silwer rok en rooi rose as ruiker die dag van hulle troue, en die toekoms het net so rooskleurig voor hulle uitgestrek.

Hulle het ‘n huis gekoop en begin regmaak vir die kinders wat hulle huwelik sou verryk. Die jare het vrugteloos verbygegaan… en toe uiteindelik word daar vir hulle ‘n tweeling gebore. Daar was groot blydskap maar ook bekommernis. Hy was nogsteeds die aantreklike man van vroeër maar sy gesondheid was nie wat dit moes wees nie. Hy het vinnig moeg geword, en sy immuunstelsel was swak.

Gekoppel aan ‘n suurstofmasjien het hy meer en meer tyd in die hospitaal begin deurbring, en is ook met artritis gediagnoseer. Die artritis het sy eens manlike liggaam begin kromtrek, en sy gesondheid het vinnig agteruit gegaan. Hy kan glad nie meer sonder suurstof klaarkom nie, en is op ‘n waglys geplaas vir ‘n longoorplanting. Sy is al jare alleen broodwinner, en die swaar staan duidelik geskryf op haar gesig.

Saam het hierdie twee mense al ‘n baie moeilike pad gestap, en harde klippe gekou. Dit kon so anders gewees het as hy net sy gesondheid gehad het.

Gesondheid is voorwaar ‘n groot seën wat so vanselfsprekend aanvaar word.

Mooi loop!!

25 gedagtes oor “Kameel – Gesondheid

    1. Welkom terug Perdebytjie. Dit is ‘n baie hartseer verhaal. As ek die eens pragtige man so verkrimp met suurstofmasker sien wil ek huil. Hy is in sy vroeg vyftigs… en sy maar 45 en die lewe het hulle al so hard geslaan.

      Liked by 1 person

      1. Die tweeling presteer ontsettend goed. Hulle gaan volgende jaar graad 12 toe. Sy sê nou die dag vir my sy is so dankbaar daaroor… sy het geen tyd ooit gehad om aan hulle skoolwerk aandag te gee nie… hulle het net by hulself die leisels gevat en begin leer.

        Liked by 1 person

    1. Ons het soveel om voor dankbaar te wees. Ek kry daai twee mense ontsettend jammer. Sy sê nou die dag vir my hy is in soveel pyn maar daar is net nie geld vir pynpille nie. Mag daar tog vinnig ‘n long vir hom beskikbaar wees.

      Liked by 1 person

    1. Mens verstaan nie altyd nie Aletta…. die lewe loop soveel seer draaie. Sy was so ‘n begaafte kind en talentvolle jongmeisie… gelyk asof die lewe oor haar glimlag. Nooit gedink sy sou hierdie pad moes stap nie.

      Liked by 1 person

    1. ‘n Mens verstaan nie Una. Haar sus se man is mos bietjie meer as ‘n jaar gelede in ‘n motorongeluk dood. Ek bel haar suster nou een aand om te hoor hoe gaan dit. Sy is nog lank nie oor Christof se dood nie, maar sy sê vir my “tannie dit gaan swaarder met my sus as met my… sy trek baie swaar, ek bekommer my oor haar.” Hoe lank sy nog so kan volhou weet ek nie. Haar geloof gaan omtrent deur die smeltkroes.

      Like

  1. Dankie dat jy hierdie gedeel het. Dit wys weer dat mens so maklik kan kla oor minder belangrike dinge terwyl hierdie twee mense werklik eintlik ongelooflik swaar kry. Party dae wonder ek hoekom daar sulke swaar omstandighede moet wees. Wat is die doel daarvan? Ek besef mens het nie beheer daaroor nie maar steeds bly dit hartseer. Gesondheid is beslis belangrik, daar word soms net te min aandag aan gegee. Eks ook bly dat die tweeling op hul eie sterk staan. Dit neem n bietjie druk weg van die ouers. Sterkte daar vir jou en die kinders ook.

    Liked by 1 person

    1. Verstaan sal ons nooit op hierdie aarde nie. Sy vertel my eendag dat terwyl sy swanger was sy elke keer wanneer sy onder deur ‘n brug werk toe ry daar ‘n diep begeerte by haar opgekom het om te bid dat die kinders wat sy dra intelligent sal wees. Met alles wat daarna gebeur het verstaan sy hoe noodsaaklik daardie gebede oor haar kinders was. Hulle is top presteerders en sy kon nooit enige aandag aan hulle op die gebied gee nie.

      Like

  2. Terugklingel: Maandag = Wasdag: Noodplan – Kreukels en plooie

  3. Die Here seën hulle waarlik met hul kinders. Ek kan net dink hoe swaar dit vir daardie man moet wees om te sien hoe sy vrou swaar kry onder die las van finansies en hy kan nie help nie. My boeta was ook baie sportief erg buite mens, maar sy longe het hom ook gekortwiek en voor sy einde was hy ook afhanklik van suurstof, maar dit was swaar om te sien hoe die siekte hom ontneem het van soveel vreugdes en sy liggaam afgetakel het.

    Liked by 1 person

Gesels met my ...