Kameel – Avontuur

Scrapy se Maandag = Wasdag no 12 Uitdaging. Wat ‘n Avontuur

Vir my is avontuur om hoë branders uit te ry strand toe, of om op die wildste “rides” by die skou rondgegooi te word. Dinge wat die adrenalien laat pomp. Vir Ken is avontuur om met sy kar te ry waar net landrovers dit sal waag. So het ons al ‘n hele paar noue ontkomings gehad.

Kenneth was twee weke oud toe ons Port St Johns toe is. Ken se vierjarige seuntjie het saamgekom, en ons het gedink dis skreeusnaaks toe hy sy stiefboetie so bekyk en sê “Hello, little rockspider.”

Die vakansie het heel rustig verloop tot een middag wat ons uitgery het om die wêreld te verken. Ons was besig om deur ‘n digte laning bome te ry – net te pragtig.- toe Ken ‘n hek gewaar wat toegang verleen veld in, en berge toe. Daar was net voetpaadjies na die inwoners se hutte in die berge, maar dit was genoeg pad vir Ken. Dit was ‘n gehop en ‘n geskommel (nie die soort waarvan ek hou nie) en ons het al hoër begin klim. Die hutte het minder geword en ons is al hoër teen die berg uit. Op een plek is ons ‘n steil aftraande af, deur ‘n drif en weer ‘n optraande uit wat nie speletjies was nie. Skaars anderkant uit toe maak die hemel oop en die reën stort neer. “Ons sal moet omdraai,” sê Ken. Makliker gesê as gedaan, maar uiteindelik was ons weer by die drif waar ‘n verrassing op ons gewag het. Water loop waar daar vroeër net ‘n klipperige drif was, en die steilte aan die anderkant is modder. Ken waarsku ons om vas te hou want hy gaan met spoed moet af en deur die drif om die kar teen die moddersteilte aan die anderkant uit te kry. Ek het my asem diep ingetrek en vasgeskop vir daardie rit. Teen die steilte op het die kar terugegly, en teen ‘n rotsbank vasgeval. Die rook het naderhand getrek soos Ken probeer het om die kar aan die beweeg te kry, maar beweeg die wou hy nie, en die uwe moes uitklim en stoot. Skoene toe onder modder het ek staan en stoot, en vir my moeite is ek met modder bespat maar dis al. Ken het geskreeu ek moet los die kar moet eers afkoel, en toe ek inklim vra hy waar is my skoene. Op my verduideliking dat ek hulle net daar in die modder gelos het want ek dink nie hulle sal ooit weer skoon kom nie stuur hy my terug. Hoe ons uiteindelik daar uit is weet ek nie maar bo gekom het daar ‘n ander probleem op ons gewag. Ons moes berg af en Ken het geen beheer oor die kar gehad nie. Hy kon die stuurwiel draai soos hy wou maar die kar het net op sy eie baan voortgegly. Op ‘n stadium is ons oor ‘n jong boompie. “No man daddy drive properly,” kom die stemmetjie hier van agter, wat die spanning vir ‘n paar sekondes verlig het, maar kort daarna kom ons tot stilstand. ‘n Groot klip het die kar aan die een kant opgelig. Ken het die kar met die domkrag probeer lig om die klip weg te rol maar die domkrag het net in die modder weggesak. Skemer het begin toesak, en ek het benoud om my rondgekyk. Ek kon al sien hoe ons in die nag by een van die hutte blyplek gaan soek. Uiteindelik het Ken die klip uitgekry en ons het verder gegly. Dit was stikdonker toe ons uiteindelik Port St Johns se liggies doer onder ons sien brand. Nog nooit was ek so bly om beskawing te sien nie. Dit was die mees verwelkomendste gesig op aarde. Maar helaas sou dit nie die laaste onwelkome avontuur wees nie.

Mooi loop!!!

23 gedagtes oor “Kameel – Avontuur

  1. Nou het jy my darem in spanning hier laat sit en lees van die drif wat vol is en kar wat nie gestuur kan word nie. Klein siefboetie klink heel bekkig met sy aanmerkings. Hoe het hy dit gevind? Ek het self ook al sulke driwwe en glyerige paaie beleef. En nou sit ek dit nog voort hier buite in die boendoes. Gelukkig is hier darem teerpaaitjies wat nou en skuins is. Hier kry mens nogal rotsstortings ook as dit so baie reen.
    Dankie vir jou deelneem aan die Wasdag!

    Liked by 1 person

    1. Daardie bekkige kind het mos vanaf standerd 4 by ons kom bly. Hy praat nie baie nie maar tot vandag het hy die droogste sin vir humor en kom met die komieklikste sêgoed voor die dag.

      Like

  2. Ek is glad en geheel en al nie ń liefhebber van die 4×4 wêreld nie. Die wildtuin se grondpaaie is genoeg. Kyk, julle was baie braaf, Kameel. En ek sou my skoene ook net daar in die modder gelos het.

    Liked by 1 person

    1. Dan verstaan jy!!! Ek hou nie eers van grondpad ry nie. Het ons tyd in Knysna en die ure se ry in die bos eers bietjie vrede gemaak met grondpaaie. Dit was ‘n nagmerrie Una…. ry in berge rond waar daar nie eers ‘n pad is nie. Mooi dag vir jou ❤

      Like

  3. Sjoe, Kameel! Ek sou dalk ook my skoene gaan red het, maar ek belowe jou – daardie man sou in die modder agtergebly het! My man is van toentertyd af belet om my kar te bestuur, met goeie rede. En die ergste wat hy gedoen het, was om met my die Apiesrivier in te ry.

    Liked by 1 person

    1. 😂😂😂 Vertel laat ek hoor van die Apiesrivier. Jy kan my man nou vra om Kaap toe en terug te ry en hy sal in die sewende hemel wees. Hy is op sy gelukkigste agter ‘n kar se stuurwiel. So geen kans vir my om hom daardie plek te verbied nie.

      Liked by 1 person

      1. Nee man, dis net ‘n geval van te veel brannas en te min logika wat ons in die rivier (genadiglik nie in die reëntyd nie) laat beland het. Ons was nie eens nat nie. Maar van toe af het ek bestuur en hy gebekdryf.

        Liked by 1 person

    1. Dankie Bondels. Ek dink ek was te benoud om eers te gedink het aan skoene uittrek. Terwyl ek geskryf het, het ek weer… noem dit maar angs gevoel van daardie trip. Ek het grootgeword met die mees sagmoedigste onavontuurlustigste pa… en toe gaan trou ek met net die teenoorgestelde man.

      Like

      1. My pa het altyd gesê hy sal geen Engelsman oor sy drumpel as ons kêrels toelaat nie. Daar loop ek toe met een weg. My ma het gesê as ek met die verhouding voortgaan onteien hulle my. Ek het toe geantwoord dat dit ok is dan het hulle nie meer ‘n dogter nie. Ek is toe uit die familie gesit. Dis ‘n lang en hartseer storie. Deur die jare het ek die wrang vrugte van my rebellie gepluk.

        Like

      2. Nee Bondels dis jaaaaare gelede se dinge, en die Here het al groot werk van genesing in en om my gedoen. Ek het net vir my ‘n moeilike bed gemaak om te slaap. Maar oor die dinge praat is nie meer seer nie.

        Like

      3. Dan is ek bly. As mens kan praat sonder seer is daar verseker genesing en ek is dankbaar. Ek het nogals self al die week gesit en dink aan soortgelyke goed in my lewe waar ek vir ander moes luister. So leer ons duur lesse. Hopelik het ek nou paar goed geleer wat ek nie weer moet oor doen nie…

        Liked by 1 person

  4. Terugklingel: Maandag=Wasdag: no 13- Gesondheid – Kreukels en plooie

Gesels met my ...