Kameel – Bloedrooi trappies

As ek maar eerder kon sê bloedrooi rose… maar nee, nou is dit bloedrooi trappies.

Vir die laaste twee weke is dit ‘n gewerfskaf op die erf…. en op die dakke van die huis en woonstel. Dit was weer tyd vir die verwers. Deur dit alles heen het ek my tuin bewonder wat nou vol in blom staan. Wat veral vir my mooi was, was die staaltrappies op na die dek toe. Die helfte van die trappies was eenkant toegegroei met groot groen varkoorblare, en die pragtigste lelies. Aan die anderkant het ‘n rankplant begin om deur die trappe te loer. “Dis so mooi ek moet ‘n foto neem,” het ek vir myself gesê, maar dit nie gedoen nie. Ken het begin praat dat die trappe ook geverf moet word, en elke keer die kleur rooi bygevoeg, maar ek het my nie daaraan gesteur nie. Hy het al voorheen die trappe geverf en weet dit moet die kleur van hout wees. So kom hy met ‘n blikkie verf hier aan en vra skoonseun of dit reg is as hy die verwers vra om die trappe te verf. Vanoggend is hy vroeg hier uit. Ek hoor later ‘n gewerfskaf buite ons kamervenster, en kyk uit. Tot my skok begroet ‘n verwer en bloedrooi trappies my. Soos blits staan ek op die dek. Dis duidelik die man weet nie wat om met die varkore te doen nie. Ek gaan haal die snoeiskêr, verduidelik hom waar hy moet sny en stap weg. Ek wil nie sien hoe word my plante geruïneer nie. Nog minder wil ek die bloedrooi trappies sien.

Toe Ken terugkom was sy verweer dat ek mos weet hy kannie kleure goed onderskei nie. Dit is waar… maar sy skouers optrek en “Dis net vir twee jaar,” sluk ek swaar aan. Sy flou grappie dat die son nou kompetisie het is nie snaaks nie. Dit was altyd vir my so mooi wanneer ek die gordyne in die oggende ooptrek en my tuin begroet my. Maar om eerste ding in die oggend daardie bloedrooi trappies te sien gaan my gemoed mos glad nie goed doen nie.

29 gedagtes oor “Kameel – Bloedrooi trappies

  1. Kameel, synde dat jy nou more die boekery avontuur vir ons Towerinne begin wil ek jou gerusstel met die simboliek van daai rooi trappe. Die heelal stuur ‘n boodskap. 😉

    Trappe dui op beweging en vorentoe beweeg – jy gaan mos nou die storie begin.

    Rooi dui op ‘raw power, elan, fervour, intense passion, aggression, authority’

    Smaak my die heelal probeer vertel hier kom ‘n ding so van 12h00 Donderdag 19 September 2019. Trek daai stilettos aan en maak towerkuns en bestyg daai trappe ala Camilla-Kameel.

    Op ‘n ernstige noot, ek sou die verwer vermoor het en manlief laat verf afstroop om dit reg te maak. Sterkte maat!

    Liked by 2 people

    1. Dankie Vuurvliiegie…. ons storie gaan seker rooiwarm gloei 😉 Die trappe is sowaar ‘n skok op die sisteem. As ek nou vir my vuur op my kop wil gooi moet ek vir Ken sê doen oor. Sal maar wag en kyk hoe verloop sake.

      Liked by 1 person

  2. Wit varkore en rooi trappies gaan ‘n mooi kontras skep teen die groen blare van die varkore. O, jy wil nie getroos wees nie? 🤔 Gaan koop rooi kleursel en kleur sy wit kerkhemde sodat hy dit mooier kan sien en wag twee jaar voordat jy weer vir hom nuwes koop.. Oef! Nee wag Hester, sjarrap jy nou.

    Liked by 4 people

    1. Nou het jy my lekker laat lag 😂😂😂 Die rooi trappies, wit varkore en groen blare alleen behoort ‘n mooi prentjie te skep. Maar saam met die res van die tuin… en ‘n houtdek skreeu dit “WRONG!!” Moet bietjie dink oor daardie hemde 🤔 As jy nou lees ‘n vrou is vermoor… weet net jy het aandeel daaraan gehad 😂😂😂

      Liked by 1 person

Gesels met my ...