Kameel Spieëldans

Op 21 JULIE 2012 het ek die gedeelte hieronder geplaas. Presies sewe jaar later is hierdie pragtige mens net stil weg. Dankie Julie dat jy my lewe so opgevrolik het. Dit was my voorreg om jou te ken. Ons ontmoet weer my vriendin… daar in ons Vaderhuis.

In die week lui die foon.  Die stem aan die ander kant is die van ‘n “vriendin,” uit my bybelstudie jare.  Soveel water het intussen in die see geloop, en ons het stad toe verhuis, maar daar is van die vroue wat nogsteeds bel as hulle raad, vertroosting, of gebed nodig het.  Hierdie betrokke vriendin se man het twee jaar gelede selfmoord gepleeg.  Sy het die huis verkoop, stad toe getrek, en was skaars “gesettle,” of sy bevind haarself in ‘n gat van depressie.

Ons gesels ‘n rukkie oor haar gemoedstoestand, anti-depressante en dies meer, toe raak haar stem so half geheimsinnig.  “Ek het vanoggend ‘n baie vreemde ding gedoen,” sê sy.  “En dit is?”  “Toe ek uit die bad klim, sien ek my beeld in die kamerspieël.  Kaal gaan staan ek voor die spieël, en bekyk my liggaam met die slap tieties wat tot op my maag hang.  Die volgende oomblik slaan ek hulle, dan die kant toe en dan daardie kant toe, en sommer boontoe ook.  Met die dat hulle so na alle kante toe swaai en draai, en dan weer op my maag neerval, begin ek my heupe swaai, en alles in my begin lewe.  Ek hou my dansende liggaam in die spieël dop, en sien bokant die slap tieties, en swaaiende heupe my gesiggie raak, en diè lyk so mooi.  Hardop sê ek vir myself;  ‘Jy is nog baie oulik!!’  Met diè stap ek kas toe, haal vir my ‘n bra wat my hoog gaan lig daaruit en trek dit aan.  Daarna trek ek myself mooi aan, en voel sommer lus vir die dag.”

Terwyl sy praat het haar stem in tempo toegeneem, en skoon uitasem bly sy ‘n rukkie stil.  Ek vee die lagtrane uit my oë, en dan hoor ek haar huiwerig saamlag.  “Dink jy dit was ‘okay’ om dit te doen….. of makeer ek iets?”  “Dit was meer as ‘okay’ vrou….. dit wil gedoen word,” verseker ek haar.  “Om nakend vir jouself in die spieël te dans, en dan vir daardie beeld met sy slap tieties te sê ‘jy is nog baie oulik,’  vra vir ‘n goeie selfbeeld.”  Ons bars weer uit van die lag.  Al proesend sê sy, “Ek het jou hiervan vertel, omdat ek alles vir jou kan vertel…. my kinders moet dit net nooit hoor nie; hulle gaan dink dit is tyd om my te laat opneem.”

Nou wonder ek; “Is hierdie boom besig is om uit haar winterslaap te ontwaak?”

En nou het die boom geval.

Mooi loop!!

15 gedagtes oor “Kameel Spieëldans

  1. Kameeltjie, ek het nooit baie vriendinne gehad nie. Maar die wat ek het tel punte, en om een te verloor maak seer. So 7 jaar terug het my een vriendin gesterf en ek mis haar steeds. Ek onthou die dag wat ek die nuus gehoor het, ook totaal onverwags. Ek stuur drukkies.

    Liked by 1 person

    1. Presies Hester, niemand kon my nog so laar lag dat die trane loop deur net die mens wie sy was nie. Ek gaan haar vreeslik mis. Dis asof dit my vandag eers werklik slaan… die trane loop vandag nie van lag nie maar diep hartseer.

      Liked by 1 person

Gesels met my ...