Kameel – Die pastoor en die koppie tee

Scrapy se Maandag = wasdag uitdaging. My woord vir die week is tee.

Screenshot_2019-07-03-11-58-15-1

My dank aan Pinterest vir die foto 😊

Dit het begin by ‘n koppie tee, die vriendskap tussen die nuwe pastoor op sy swart motorfiets met sy swart leerbaadjie aan, en ons gesin. Die tee is met sy eerste besoek bedien soos dit ‘n opgevoede huishouding betaam. Skinkbord met borduurde lappie, teepot, melkbekertjie, suikerpotjie…. net te grênd. Net die teelepels was nie goud soos sus Rika s’n nie. Ek het die pastoor mooi laat verstaan dat hy kan sien ek het al die goed om ‘n goeie indruk te maak… maar hy gaan nie die fieterjasies weer sien nie. As jy eenkeer by ons aan huis was is jy ingelyf en word daarna gesien as deel van die huishouding. Sy volgende koppie tee gaan met melk en suiker en klaar geroer by hom aankom… hy moet net sluk. Maar daar sou nie ‘n volgende koppie tee wees nie. Die pastoor het met daardie koppietjie tee wat so netjies bedien was in sy hand gesit totdat hy moed bymekaar geskraap het om te sê die tee is ondrinkbaar sleg, en of ek sal omgee as hy dit los. Natuurlik mag hy dit los, dis nie die eerste keer dat ek hoor my tee haal nie die paal nie. Ouer dames het my tevergeefs die kuns van teemaak probeer leer… daardie “magic touch” het my bly ontwyk. Gelukkig het die tee nie daar en dan ‘n stok in die wiel van ons vriendskap gesteek nie.

Mooi loop!

As jy wil deelneem besoek Scrapy vir die week se woorde.

32 gedagtes oor “Kameel – Die pastoor en die koppie tee

    1. Nee wat ek was al gesout in mense wat my tee in florerende taal as ondrinkbaar beskryf. Die lekker hiervan is dat Ken later die job as teemaker oorgeneem het. Tot vandag doen hy die tee en koffie wanneer ons kuiermense kry. En wie wou jy beïndruk?????

      Like

    1. Nee vrou hierdie is ‘n mystery wat nie opgelos kan word nie. Eendag het Mev Cruywagen die NG predikantsvrou wat soos ‘n ma vir my was, my spesiaal vir ‘n oggend gevat en in haar kombuis my die etiket van ‘n ordentlike koppie tee probeer leer. Jy weet daardie maak eers teepot warm. Verhit die koppies deur met kookwater uit te spoel ens. Alles tevergeefs. Sy was nie die enogste een wat my die kuns wou leer nie. Toemaar nou is my man die teemaker 😊

      Liked by 1 person

      1. Koffie met al sy geure en maniere het mos nou die in ding geword. Ek sal in Kazakstan by dr. Christa moet gaan kuier om al die teegeure te proe. Chocolate and toffee… verbeel jou. Miskien moet ek dan die pastoor weer nooi vir ‘n probeerslag. 😂😂😋

        Like

    1. Die grêndgeit is sommer nonsens Una… ek sou definitief nie in daardie stywe upstairs tyd ingepas het nie. Ons is net onsself. Ek drink een koppie rooibostee op ‘n Vrydagoggend by Mariaan my haarkapster. Het verlede Vrydag myne op hulle vloer laat uitval. Terselftertyd het Mariaan naar geword en vir die toilet gehardloop (nie oor die tee nie.) So dit was iewat van ‘n fiasko.

      Like

    1. ‘n Pastoor moet baie dinge sluk, maar Kameel se tee!!! Aikôna 😂😂😂😂 Ek is bly hy het die vrymoedigheid gehad om te praat. Wat sal die arme man nou so verniet suffer?

      Liked by 1 person

      1. Frannie ek dink dit het te doen met hoe ons mense ontvang. By my is dit sommer “Hi hello, skop uit jou skoene, sit op jou voete en maak jouself tuis. En sien jy hierdie skinkbord ens… laaste keer wat jy hom sien. Ai klink of ‘n boswagter my grootgemaak het, en my ouers was heel verfyn. 😂😂😂😂

        Liked by 1 person

  1. Moenie worry Kameel, my vriendin, ek kan ook nie tee maak nie. Ek wil ook nie koffie maak nie.Ek koop deesdae hierdie vooraf opgemaakte pakkies cappuchino en dop dit om in die koffiebeker. Kookwater daarby en hier is ‘n pakkie koekie nog in die paper – help jouself. As jy weer jou mond oopmaak, kry jy net ‘n bottel vol water uit die yskas. Ek is ‘n terrible gasvrou.

    Liked by 1 person

      1. Regtig? Myne het dieselfde reaksie en mense kyk my altyd snaaks aan as ek sê koffie maak my siek, en ek het dit nogal sonder suiker gedrink. Suiker laat ook my hart hardloop – ek vermy enige vorm daarvan, al is dit net ‘n stokkielekker.

        Liked by 1 person

      2. Oooo gelukkig kan ek nog soetgoed eet. Is op ‘n pil wat my hartklop reguleer…. maar is nie van plan om koffie te toets nie. Nie grappies as jou hart weer reggeskok moet word nie.

        Liked by 1 person

  2. Baie dankie dat jy geskryf het.ek waardeer dit baie. Bly die tee het jou aan die skryf gesit. Ek sien die prentjie mooi skinkbord en teegoed, die pastoor wat uitsien na n heerlike kopie tee, en toe val alles plat, hy kon die tee nie inkry nie. Arme gas.Ek is n teedrinker. Swart tee nie te sterk of the vlou wees nie, een lepeltjie suiker! Koffie gee my ook hartkloppings. Lekker storie hoor.

    Liked by 2 people

Lewer kommentaar op HesterLeyNel Kanselleer antwoord