Kameel – Die langtafel, gaste en disse

Screenshot_2019-05-14-17-20-49-1-1Deur die kombuisvenster sien ek Blommetjie die koei rustig in die veld wei. Kon ek maar net met haar plekke ruil tot na die langtafel ete. Liewe, wat het my besiel om Adolf Hitler van alle mense vir die geleentheid te nooi. Maar dan weer, ek kon aan niemand anders dink van wie ek minder hou as van dié man nie. Alles Vuurvliegie se skuld!!! Nou sit die man met sy verspotte snorretjie, koue oë en ongenaakbare houding in my sitkamer…en dit nogal met Blondi sy Duitse Herdershond aan sy voete. Ek het hom nie “geheil Hitler,” toe hy met sy chauffeur hier aangeland, en ek hom ontvang het nie. Inteendeel, ek wou die “Open heart, open home,” bordjie net daar omdraai en hom terugstuur vanwaar hy kom, maar die koue rillings teen my ruggraat het my verhoed. Teen wil en dank sal ek gasvry moet wees. Gelukkig het Mark Twain kort daarna opgedaag en kon ek spore maak kombuis toe.

Ek haal die bak met die koffie varktjops uit die oond. Waar ek die resep vir die lekker tjops gekry het kan ek nie meer onthou nie; tien teen een ‘n Huisgenoot wenresep. So ja, amper klaar. Net die beestong opsny, en op die warm opdienbord rangskik, en dan die pruimedante-en-amandelsous wat op die stoof prut daaroor skep. Vir ‘n oomblik oorval die heimweë my. My kinders is weer terug in die huis, en ek en Marlé is heeldag besig met voorbereiding vir die aand se kersligete. Die tafel met sy spyskaart en naamkaartjies is feestelik gedek, en wanneer etenstyd nader gaan trek almal deftig aan. Sagte musiek word gespeel en dan eers mag Ken en die ander kinders die eetkamer, wat heeldag verbode was betreë. Die beestonggereg is net op daardie aande voorgesit, en was almal se gunsteling.

Sigaarrook ruk my terug na die hede. Dit kan net Mark Twain wees. Hopenlik beland hy nie langs Hester aan tafel nie; dit sal mos ‘n groot gemors afgee as Hester sy tande uitslaan omdat hy langs haar sit en rook. “Jy bekommer jou verniet,” praat ek met myself “die man lyk na ‘n ‘gentleman,’ en sal sekerlik wag tot na ete voordat hy sy geliefde sigaar aansteek.” Mark Twain is een van my gunsteling skrywers. Deur sy boeke het ek saam met hom oor die wêreld gereis, en gelag oor sy humoristiese met tye ironiese beskrywing van dit wat hy beleef. Ek het gewens ek kan hom persoonlik ontmoet, hom vertel hoe hy my lewe opgekikker het; maar ook besef ek mag daarna as ‘n nie te wonderlike karakter in een van sy boeke beland. Wonder wat hy oor die Towerinne te sê gaan hê.

Nou toe, daar stap Scrapy met haar skinkbord langtafel toe, ek beter opskud.  Ek kan seker nie die gaste vra om my te help dra nie. Wonder waar is Lorenzo? Klink darem of die twee mans in die sitkamer lekker gesels. Miskien kan ek vanaand net stilsit en luister en hoef ek nie “boo of baa” te sê en vrees ek sit my voet verkeerd neer nie. Wonder of Frannie nie met my sal plekke ruil nie?

Mooi loop!!

WIL JY KOM SAAM KUIER? MAAK SO:

Ons langtafel is sosiaal en gemeensaam van aard. Ons kinkel is dat elke Towerin en Blogmaat plek vir haar of homself en twee gaste aan die tafel het. Dit moet ‘n beroemde of bekende persoon wees – een wat jy bewonder en een wat jy verpes. Dis nou lewendes en die wat ons reeds vooruit is. (Broodina het ons mos geleer om selfs die van wie ons nie so baie hou nie, te aanvaar.)

Ook moet jy asseblief iets lekker bring om aan jou gaste en ons ander voor te sit. Vertel hoekom, en deel die resep as jy wil.

https://fresh.inlinkz.com/p/f3a95533873d4e39950509a1af369d8a

Advertisements

39 gedagtes oor “Kameel – Die langtafel, gaste en disse

  1. Kameel, Kameel. Kom sluk gou ‘n gemmertjie by my. Mark Twain sjoe ja! Hilter….moet hom net nie naby die ander onwenniges loslaat nie, net nou stig hulle af. Kyk hierdie tafel raak ‘n storie op sy eie soos die Barge op die dam. Ek gaan beslis ‘n tjop gaps, lekker dik drome as ek gaan slaap. Watter slaap…Hilter, Kim Kardashian, Broodjie en…..🙈🙉🙊

    Liked by 3 people

  2. Kameel, jy het opgedaag met my aartsvyand! Ek het gedink oor Zuma en Trump, selfs Steve was op my lys…sorry julle wat van hom hou. Pampoen is my all time favorite, maar nie die man wat dit sing nie. En net oor sy politiek, nie oor enige iets anders nie.

    Liked by 2 people

  3. Kameel- genade maar jy het omtrent ‘n punt beet met die Hitler mannetjie. Kan jy glo, en jy is reg, daar is seker min mense aan wie mens so af gevoel het. Bring sommer so gemmertjie saam daar van Vliegie af, ek nou sommer self bietjie nodig. Dankie vir nog heeeeeeerlike vark, mense, maar ek gaan eet vandag,xx

    Liked by 1 person

    1. Ek bring die gemmertjie!!! Hopenlik skrik almal nie so vir Hitler se teenwoordigheid dat daar doodse stilte oor ons neerdaal nie 😂😂😂😂 Nataniël en Mark se humor red hopenlik die aand.

      Like

  4. Kameel, kom ons neem beurte om met mekaar se gaste te kuier – ek is baie lief vir jou en is jou graag ter wille, maar om heeltemal plekke te ruil sien ek ongelukkig nie voor kans nie! (Ek sal die tweede skof neem as die spulletjie – en ek – al goed gesuie het…)

    Liked by 1 person

    1. Frannie nou het jy my laat lag. Dus sien jy net kans vir Hitler….en Mark wanneer jy en hulle gesuip is. 😂😂😂😂😂 Ek wou jou nog vra of Hitler by jou kan oorslaap….daar is mos twee kamers by jou…en dan is daar nog die toring ook.

      Liked by 1 person

      1. Verstaa’-jy! Ummm – ag hy kan maar in die toring oorslaap, want Kim is in die groot slaapkamer en haar tolk in die kleintjie. Nataniël moet so teen eenuur vannag weer in die pad val na sy volgende verpligting. (Dit sal my leer om ‘n groot huisie te betrek…)

        Liked by 2 people

  5. Jameel, ek en my oa sal jou gou kom help aandra aan jou kos.
    Mark Twain gaan beslis ‘n Towerinboek skryf! Ek kan nie WAG nie! Ek hoop nie Hitler sit naby my nie, ek mag dalk net iets sê waarvan hy nie hou nie. Die waarheid, jy weet! 😁
    Beestong en varktjops! Hoe lus kry ek nou!

    Liked by 1 person

    1. Ag dankie Toorts….ek moet ook nog vinnig by Vuurvliegie ‘n draai maak vir ‘n gemmertjie teen die senuwees. Jy mag maar oppad vinnig ‘n stukkie beestong gaps, en vir jou pa ook. Jong, ek dink ons gaan dit almal moeilik vind om ons misnoë met Hitler vir onsself te hou. Tien tel voordat ons praat!!!

      Liked by 1 person

  6. Mmmm, wat ‘n interessante keuse van gaste! Hoe haatlik ookal, Hitler is een van die mense met wie ek bittergraag ‘n diep gesprek mee wou hê. Ek sou graag wou hoor waar als begin het. Ek glo mense word nie so gebore nie.

    Te oordeel aan almal se gaste gaan hierdie dalk ‘n dae lange ete wees?! 😉

    Liked by 1 person

    1. Jy moet vinnig ReBusfontein toe kom sodat jy met Hitler kan gesels. Net daardie kyk in sy oë gee my rillings…wonder wat lê daar in die dieptes van sy siel. Jy vind uit en dan vertel jy my. Dink ook hierdie ete gaan ‘n laaaaang sessie word.

      Liked by 1 person

    1. Ai jai Bondels dis nou een manier om Hitler besig te hou 😂😂😂 Nee, dis pruimedant en amandelsous. Pruimedante, druiwe asyn, rooi wyn, bruinsuiker, naeltjies, kaneel, rosyntjies, amandels, botter, sout en peper, suurlemoensap en koekmeelblom.

      Like

  7. Terugklingel: ‘n Lekker week van kuier op Rebusfontein – toortsie.com

  8. So amper het ek jou inskrywing gemis, dankie tog vir InLinkz. Horie, ou Adolf was ook op my kortlys, maar toe het ek besluit ek hou maar verby. Ek sal my sowaar slap lag as Mark Twain daar van Anderkant af ‘n boek skryf – Adventures of the Lady Magicians. Dankie vir die tong se sousreseppie – hoe lyk dit met die koffietjop-reseppie?

    Liked by 1 person

    1. Ek sou wat wou gee om te hoor wat Mark Twain oor ons te sê gehad het. Kyk hy het humor maar dis satire en hy sny ‘n fyn lyn tussen komedie en sarkasme. Sit hier by biblioteek…na al die jare weer boeke kom uitneem. Lees mos nie Afrikaans nie….en nou sit ek met twee van P G du Plessis se boeke. Definitief tekens van ouderdom 🤔

      Liked by 1 person

      1. Party ou goed raak net beter met die ouderdom saam. Ek kan nie lekker byt kry aan die meeste van die moderne Afrikaanse skrywers se boeke nie. Daar is goeies ook, maar ek neig nog maar steeds terug na die oueres.

        Liked by 1 person

      2. Ek dink nie ek het baie van sy boeke gelees nie. Ek ken hom beter uit sy tv-programme, sy geselsies met Justus Tshungu en artikels wat hy geskryf het. Ek onthou hom natuurlik die beste vir Siener in die Suburbs, Koöperasiestories en Fees van die Ongenooides. Ek dink dit was almal tv-reekse en / of radiostories. Hy het ‘n uitsonderlike sin vir humor gehad en van dit wat ek wel gelees het, ‘n gemaklike skryfstyl.

        Liked by 1 person

      3. Het dag by my vroendin wat ‘n bibliotekaresse was gekuier (Sy wat my aan classics voorgestel het.) Sy lees ook Engels…maar praat toe ook oor Siener in die Suburbs. Ek gaan vanaand Fees van die ongenooides begin lees….as daar humor in os behoort ek dit te geniet. Jy verstaan dat ek ter wille van julle Afrikaans gaan begin lees….probeer byhou met die Jone…ek bedoel van der Merwes. 😇

        Liked by 1 person

      4. Ek is eintlik ‘n Whannermirwie. Ek moet ook meer Afrikaans lees, maar ek hou so ‘n bietjie by die boeke verby en lees artikels. As ek nou weer dieselfde tipe skrywers kan raakloop as FA Venter, WA de Klerk, Anna M Louw, Ettiene le Roux, Elise Muller in die moderne tyd, dan raak ek weer ‘n boekverslaafde.

        Liked by 1 person

  9. Kameel, nou het ek als gehoor. Hitler van alle mense. Jy weet mos die Hollanders haat die Duitsers net agv Hitler se manier van doen. Sal maar nie verder my uitlaat nie. Mark Twain is darem n mens om mee te kan gesels as dit moet. Dit lyk vir my asof ons heel varkerig gaan eet want ek het ook n varkgereg reggemaak! Maar nou ja, dit klink of daar baie tyd gaan wees om rustig te sit en eet en alles te geniet. Ek glimlag darem lekker hier in my enigheid vir al die klomp”twak” wat verkoop word. Dis egter die moeite werd en goeie ontspanning! Sien jul bietjie later. My baadjie se rits het vasgehaak en ek moes dit nou eers met n sker oopsny om die uit te trek. Sal nou maar een van my kwilte oor my skouers moet gooi!

    Liked by 1 person

    1. Scrapy met Hitler daar kan niemand ons verkwalik dat ons vark en nogmaals vark op die tafel het nie. Ons towerwêreld kikker die lewe op….dis om weer soos ‘n klein dogtertjie in ‘n fantasiewêreld rond te beweeg. As jy jou nou uit iou klere moet sny is dit ‘n probleem. Jou kwilte is pragtig…so een oor die skouers is ‘n goeie idee. Miskien begin jy ‘n nuwe mode.

      Like

Gesels met my ...

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s